1 PETRUS 2:13-17
1 PETRUS 2:13-17 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen. Julle moet gehoorsaam wees, want God wil hê dat die onverstandige mense moet stilbly wanneer hulle sien dat julle goeie dinge doen. Die onverstandige mense weet nie wat God wil hê nie. Julle is vry mense, maar julle moenie dink dat julle slegte dinge mag doen omdat julle vry is nie. Nee, julle is vry mense, maar julle is ook dienaars van God. Julle moet al die mense eer, julle moet lief wees vir die mense wat in die Here glo, julle moet God eer en dien, julle moet die keiser eer.
1 PETRUS 2:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.
1 PETRUS 2:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.
1 PETRUS 2:13-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.
1 PETRUS 2:13-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Onderwerp julle aan elke mensverordening ter wille van die Here, of dit nou aan die koning is, as opperste; Of aan goewerneurs, soos aan die wat deur hom gestuur is ter straf van kwaaddoeners en tot lof van die wat goed doen. Want so is die wil van God, dat julle deur goed te doen die onkunde van dwase mense tot swye kan bring. As vrymense en nie julle vryheid as 'n dekmantel van kwaadwilligheid gebruik nie, maar as dienaars van God. Eer alle mense. Hou van die broederskap. Vrees God. Eer die koning.
1 PETRUS 2:13-17 Die Boodskap (DB)
Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering.
1 PETRUS 2:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning.