1 PETRUS 2:11-14
1 PETRUS 2:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo. Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen.
1 PETRUS 2:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.
1 PETRUS 2:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.
1 PETRUS 2:11-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys.
1 PETRUS 2:11-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geliefdes, ek smeek julle as vreemdelinge en pelgrims: onthou julle van vleeslike begeerlikhede wat teen die siel oorlog voer; Hou julle wandel eerlik onder die heidene, sodat, terwyl hulle teen julle praat as kwaaddoeners, hulle deur julle goeie werke wat hulle sal aanskou, God kan verheerlik op die dag van besoeking. Onderwerp julle aan elke mensverordening ter wille van die Here, of dit nou aan die koning is, as opperste; Of aan goewerneurs, soos aan die wat deur hom gestuur is ter straf van kwaaddoeners en tot lof van die wat goed doen.
1 PETRUS 2:11-14 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie.
1 PETRUS 2:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen.