1 PETRUS 2:1-25

1 PETRUS 2:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Daarom moet julle ophou om enige iets te doen wat sleg is en julle moenie iemand bedrieg nie. Julle moet ook nie skynheilig en jaloers wees en slegte dinge sê van ander mense nie. Klein babatjies wil baie graag melk drink, so moet julle ook graag vol wil word van geestelike dinge. Dit is soos regte melk wat nie vals is nie en wat julle só sal laat groei dat die Here julle sal red. Julle verlang na hierdie dinge, want julle het self gevoel dat die Here goed is. Julle moet na Christus toe kom, Hy is soos 'n klip wat lewe. Die mense wou nie die klip gebruik om te bou nie, maar God het daardie klip gekies en dit was die belangrikste klip in die gebou. Julle is ook soos klippe wat lewe, julle moet bid dat God sy Gees sal gebruik om sy huis te bou met julle. Dan kan julle gewyde priesters wees om offers vir God te bring. Dit is Jesus Christus wat vir julle help om te offer soos die Gees wil hê, sodat God van hierdie offers sal hou. Want ons lees in die Ou Testament: Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, dit is 'n hoek-klip wat Ek gekies het en wat baie kosbaar is. Die mense wat in Hom glo, sal veilig wees. Daarom, julle wat in Jesus Christus glo, sal ook vir Hom baie kosbaar wees. Maar daar is mense wat nie in Hom glo nie. Vir hulle is dit waar wat in die Ou Testament geskryf is: Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die gebou geword. Daar is ook geskryf: Hy is 'n klip waarteen hulle stamp, 'n rots waaroor hulle val. Hulle val oor die rots omdat hulle nie geglo het wat God gesê het nie. Dit was God se plan dat dit met hulle moet gebeur. Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is 'n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is. Toe was julle nie 'n volk nie, maar nou is julle God se volk. Toe was God nie goed vir julle nie, maar nou is Hy goed vir julle. Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo. Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen. Julle moet gehoorsaam wees, want God wil hê dat die onverstandige mense moet stilbly wanneer hulle sien dat julle goeie dinge doen. Die onverstandige mense weet nie wat God wil hê nie. Julle is vry mense, maar julle moenie dink dat julle slegte dinge mag doen omdat julle vry is nie. Nee, julle is vry mense, maar julle is ook dienaars van God. Julle moet al die mense eer, julle moet lief wees vir die mense wat in die Here glo, julle moet God eer en dien, julle moet die keiser eer. Julle wat slawe is wat in die huise moet werk, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars en julle moet hulle altyd respekteer. Julle moenie gehoorsaam wees net aan die goeie en vriendelike eienaars nie, julle moet ook gehoorsaam wees aan die eienaars wat slegte dinge doen aan julle. Want God is baie goed vir julle as julle niks verkeerd gedoen het nie en julle kry baie swaar en julle is tevrede omdat julle dink aan wat God wil hê julle moet doen. Want as julle geduldig is wanneer mense julle slaan omdat julle sonde doen, dan sal die mense julle nie prys nie, dit is seker. Maar as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle. God het vir julle gekies om goeie dinge te doen en om swaar te kry, want Christus het ook swaargekry vir julle. So het Hy vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle Hom kan volg. Hy het nie sonde gedoen nie, en Hy het niemand bedrieg nie. Toe mense vir Christus beledig het, het Hy nie ook vir hulle beledig nie. Toe mense vir Hom laat swaarkry het, het Hy nie gesê dat Hy ook vir hulle sal laat swaarkry nie. Hy het hulle gelos sodat God reg kan oordeel oor hulle. Toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy die straf vir ons sondes gedra, sodat ons glad nie meer sondes sal doen nie, maar sodat ons kan lewe om te doen wat God wil hê. Hy het seergekry sodat julle gesond kan wees. Want julle was soos skape, julle elkeen het geloop waar hy wou loop, maar nou het julle teruggekom na Christus toe. Hy is die Herder, die Een wat vir julle sorg.

1 PETRUS 2:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

LÊ dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is. Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n Steen van aanstoot en 'n rots van struikeling — vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer. DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.

1 PETRUS 2:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. Julle het immers ondervind dat die Here goed is. Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.” Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.

1 PETRUS 2:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”. Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie 'n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het. Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer. Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God. Julle is immers hiertoe geroep, want •Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir •geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is. Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.

1 PETRUS 2:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom moet u alle boosheid en alle bedrog en huigelary en afguns en alle boosheid tersyde stel, Begeer as pasgebore kindertjies na die opregte melk van die woord, sodat julle daardeur kan groei. As julle so gesmaak het dat die Here genadig is. Na wie kom, soos na 'n lewende klip, weliswaar verhinderd deur mense, maar deur God uitverkore en kosbaar, Ook word julle, soos lewendige klippe, opgebou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat vir God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom is dit ook vervat in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore, kosbare hoeksteen, en hy wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar, maar vir die ongehoorsames word die steen wat die bouers verbied het, dit die hoof van die hoek gemaak, En 'n klip van aanstoot en 'n rots van struikeling, vir die wat deur die woord struikel, omdat hulle ongehoorsaam is, waartoe hulle ook bestem is. Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige nasie, 'n eiendomsvolk; dat julle die lof kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis na sy wonderbare lig geroep het. Wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; wat nie barmhartigheid verkry het nie, maar nou barmhartigheid verkry het. Geliefdes, ek smeek julle as vreemdelinge en pelgrims: onthou julle van vleeslike begeerlikhede wat teen die siel oorlog voer; Hou julle wandel eerlik onder die heidene, sodat, terwyl hulle teen julle praat as kwaaddoeners, hulle deur julle goeie werke wat hulle sal aanskou, God kan verheerlik op die dag van besoeking. Onderwerp julle aan elke mensverordening ter wille van die Here, of dit nou aan die koning is, as opperste; Of aan goewerneurs, soos aan die wat deur hom gestuur is ter straf van kwaaddoeners en tot lof van die wat goed doen. Want so is die wil van God, dat julle deur goed te doen die onkunde van dwase mense tot swye kan bring. As vrymense en nie julle vryheid as 'n dekmantel van kwaadwilligheid gebruik nie, maar as dienaars van God. Eer alle mense. Hou van die broederskap. Vrees God. Eer die koning. Diensknegte, wees onderdanig aan julle here met alle vrees; nie net vir die goeie en saggeaarde nie, maar ook vir die verkeerde. Want dit is dankbaar as iemand vir die gewete van God droefheid verdra en onregmatig ly. Want watter heerlikheid is dit as julle dit geduldig sal opneem wanneer julle geslaan word oor julle misdade? maar as julle, wanneer julle goed doen en daarvoor ly, dit geduldig opneem, is dit by God welgevallig. Want ook hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir ons gely het en vir ons 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan volg. Wat geen sonde gedoen het nie, en geen bedrog is in sy mond gevind nie; wat, toe hy uitgeskel is, nie weer uitgeskel het nie; toe hy gely het, het hy nie gedreig nie; maar hom toevertrou aan hom wat regverdig oordeel. Wat self ons sondes in sy liggaam aan die boom gedra het, sodat ons, wat vir die sondes dood is, kan lewe vir die geregtigheid; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos skape wat dwaal; maar is nou terug na die Herder en Biskop van julle siele.

1 PETRUS 2:1-25 Die Boodskap (DB)

Maak julle lewe skoon. Raak ontslae van slegte en oneerlike dinge. Moenie agter iemand se rug iets anders wees as wat julle voor hom is nie. Jaloesie bring julle niks in die sak nie, en om sleg te praat van ander nog minder. ’n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ’n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is. Julle het mos al ’n voorsmaak gehad van hoe goed die Here is. Kom na Jesus toe. Ek wil die voorbeeld gebruik van ’n huis wat gebou word. Jesus kan vergelyk word met ’n steen (behalwe dat Hy leef). Die mense wou Hom nie vir die bou van die huis gebruik nie. God het egter daardie Steen tussen al die ander uitgekies. God het geweet dat daardie Steen baie werd is en het Hom op die beste plek in die huis ingebou. Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.” As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif: “Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.” En: “Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.” Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering. Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur. Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie. Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle sonde voor God te betaal nie. Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef. Julle was soos skape wat verdwaal het, maar nou het julle julle pad terug gekry tot by julle Skaapwagter. Hy sal julle goed oppas en mooi vir julle sorg.

1 PETRUS 2:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle moet julleself distansieer van alle slegte gedrag, van elke vorm van valsheid, van voorgee wat julle nie is nie, van jaloesie en alle kwaadpratery. Hiervoor moet julle genoeg geestelike melk inkry. Smag daarom na hierdie voeding soos pasgebore babatjies na hulle ma se melk sodat julle daardeur kan groei tot volwasse verlostes. Julle het mos net ná julle weergeboorte klaar geproe hoe goed die Here is. Julle het na Christus toe gekom, Hy wat die lewende hoekklip is van God se geestelike tempel. Die mense het Hom afgekeur as hoekklip, maar God het Hom vir dié ereplek uitgekies. Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is. Soos dit in die Skrif staan: “Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitgekies vir dié ereplek. Elkeen wat op Hom vertrou, sal nóóit verneder word nie.” Hierdie eer is dus bedoel vir julle wat glo. Vir dié wat egter nie glo nie, geld die volgende woorde: “Juis daardie klip wat deur die bouers afgekeur is, het die sluitklip van die gebou geword.” Die volgende Skrifdeel geld ook vir dié wat nie glo nie: “Hy is ’n klip waaroor mense struikel, ’n rots wat jou laat val.” Hulle struikel omdat hulle nie aan God se woord gehoorsaam is nie. Hulle was vir hierdie struikeling bestem. Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het. “Vroeër was julle nie ’n volk nie; nou is julle egter die volk van God. Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.” Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning. Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore. Hy het nooit sonde gedoen en geen leuen vertel nie. Toe Hy beledig is, het Hy nie terugbeledig nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel. Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý wonde is julle genees! Vroeër was julle soos verdwaalde skape. Nou het God julle egter teruggebring na julle Herder, die Bewaker van julle lewe.