1 PETRUS 1:18-20
1 PETRUS 1:18-20 Bybel vir almal (ABA)
Julle weet dat Christus julle vrygemaak het van die slegte lewe wat niks beteken nie, julle het by julle voorvaders geleer om so te lewe. Christus het julle vrygemaak, maar Hy het julle nie gekoop met silwer of goud nie. Dit is dinge wat kan ophou om iets te beteken. Nee, Christus het julle vrygemaak met iets wat baie beter is, Hy het julle vrygemaak toe Hy gesterf het. Hy het gesterf soos 'n lam wat 'n offer was, 'n lam wat heeltemal gesond en perfek was. God het vir Christus gekies om dit te doen voordat God die wêreld gemaak het. Nou is dit die einde van die tyd, God het Christus vir julle gestuur.
1 PETRUS 1:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil
1 PETRUS 1:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.
1 PETRUS 1:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle
1 PETRUS 1:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Aangesien julle weet dat julle nie met verganklike dinge, soos silwer en goud, losgekoop is uit julle ydele wandel wat deur oorlewering van julle vaders ontvang is nie; Maar met die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos: wat wel voor die grondlegging van die wêreld vooraf verordineer is, maar in hierdie laaste tye vir julle geopenbaar is
1 PETRUS 1:18-20 Die Boodskap (DB)
Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie! God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer.
1 PETRUS 1:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen.