1 PETRUS 1:10-16
1 PETRUS 1:10-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
1 PETRUS 1:10-16 Bybel vir almal (ABA)
Die profete het baie hard probeer om uit te vind hoe God vir julle sal red, en hulle het vir julle die boodskap van genade gebring. Die Gees van Christus wat in die profete gewoon het, het lank gelede vertel dat Christus baie swaar sal kry en dat Hy daarna Koning sal wees. Die profete het probeer om uit te vind wanneer en hoe die dinge met Christus sal gebeur, die dinge waarvan die Gees gepraat het. God het vir die profete gewys dat hulle die goeie boodskap nie vir hulleself moes bring nie, maar vir julle. God het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees het vir die profete die goeie boodskap gegee wat hulle nou vir julle gebring het. Die engele wil ook graag hierdie dinge weet. Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom. Julle moet lewe soos kinders wat gehoorsaam is, julle moenie lewe soos julle voorheen gelewe het nie. In daardie tyd het julle nog nie die goeie boodskap van God geken nie, en toe wou julle graag slegte dinge doen. Nee, God het julle gekies om sy volk te wees en Hy is heilig. Daarom moet julle heeltemal lewe soos mense wat aan God behoort. Julle moet so lewe omdat daar in die Ou Testament geskryf is: “ Julle moet julleself aan My wy, want Ek is heilig.”
1 PETRUS 1:10-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien. DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
1 PETRUS 1:10-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
1 PETRUS 1:10-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waarvan die verlossing die profete ondersoek en ywerig ondersoek het, wat geprofeteer het oor die genade wat oor julle sou kom. Ondersoek wat, of hoe lank die Gees van Christus wat in hulle was, te kenne gegee het toe dit vooraf getuig het van die lyde van Christus en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan wie dit geopenbaar is, dat hulle nie vir hulleself nie, maar aan ons die dinge bedien het wat nou aan julle verkondig is deur die wat die evangelie aan julle verkondig het met die Heilige Gees wat van die hemel neergedaal is; watter dinge die engele begeer om na te kyk. Daarom, omgord die lendene van julle gemoed, wees nugter en hoop tot die einde toe op die genade wat julle gebring sal word by die openbaring van Jesus Christus; Moet julle as gehoorsame kinders nie in julle onkunde volgens die vroeëre begeerlikhede vorm nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, so moet julle ook in alle lewenswandel heilig wees; Want daar is geskrywe: Wees heilig; want Ek is heilig.
1 PETRUS 1:10-16 Die Boodskap (DB)
Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg. Die Skrif sê: “Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.”
1 PETRUS 1:10-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!”