1 PETRUS 1:1-25

1 PETRUS 1:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Petrus, ’n apostel van Jesus Christus. Ek skryf aan God se uitverkore volk wat as uitlanders verstrooid leef in Pontus, Galasië, Kappadosië, die provinsie Asië en Bitinië. God die Vader het julle lank gelede al uitgekies en deur die Gees aan Homself toegewy. Die gevolg is dat julle gehoorsaam is aan Hom en deur die bloed van Jesus Christus skoongemaak is. Mag God se genade en vrede steeds meer en meer julle deel wees. Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. God het inderdaad ’n kosbare erfporsie vir sy kinders. Hierdie erfporsie kan nie tot niet gaan of besmet word of verwelk nie; God hou dit veilig by Hom. En God sal ook júlle deur sy krag veilig bewaar sodat julle die verlossing sál ontvang deurdat julle op Hom vertrou. Julle verlossing sal in die eindtyd vir almal sigbaar word. Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word. Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie. Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry. Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!” En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen. Christus maak dat julle al julle vertroue op God stel. God het Christus uit die dood opgewek en heerlikheid aan Hom gegee. Daarom stel julle al julle vertroue en hoop op God. Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning. God het immers die proses begin waardeur julle weergebore is. Hierdie weergeboorte is nie deur julle aardse ouers bewerk nie, want die lewe wat hulle julle gegee het, loop op die dood uit. Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God. Soos die profeet sê: “Elke liggaam is soos gras; al sy skoonheid is soos ’n veldblom. Die gras verskroei, en die blom verlep. Maar die woord van die Here hou vir ewig.” En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.

1 PETRUS 1:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Petrus, is 'n apostel van Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir julle wat vreemdelinge is en wat op verskillende plekke woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. God die Vader het julle gekies om sy volk te wees omdat Hy lank gelede dit besluit het. Die Heilige Gees het julle gewy om sy volk te wees en om gehoorsaam te wees aan Jesus Christus. God het lank gelede besluit dat Jesus Christus moet sterf om julle sonde weg te neem. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle baie vrede sal gee. Ons prys die God en Vader van ons Here Jesus Christus, God wat baie goed is vir ons. Jesus Christus het gesterf, maar God het vir Jesus weer laat lewe, en so het God vir ons ook weer laat lewe. Ons het nou 'n nuwe lewe, en daarom kan ons baie seker wees van die dinge wat ons hoop. Ons is seker dat God vir julle alles sal gee wat Hy belowe het. Niemand kan die dinge wegvat wat God gee nie, dit bly dieselfde, dit is nie soos 'n blom wat droog word en verlep nie. God het hierdie dinge vir julle gebêre in die hemel. God is sterk, Hy pas ook vir julle mooi op, julle wat in Hom glo. Hy wil julle red op die laaste dag, julle sal dit sien. Julle moet baie bly wees dat God julle wil red. Julle kry nou baie swaar en julle dink dat julle miskien moet ophou om vir God te dien. Maar julle sal net 'n kort tydjie swaarkry. Hierdie dinge wat julle laat swaarkry, toets julle geloof, en julle geloof is meer kosbaar as goud. Goud bly nie altyd dieselfde nie, maar 'n mens smelt goud in vuur om dit skoon te maak. Wanneer julle swaarkry en wanneer God julle geloof toets, dan sal mense sien dat julle geloof beter is as goud wat mense gesmelt het. Wanneer Jesus Christus weer kom, dan sal julle belangrik wees, God sal julle prys en vir julle eer gee. Julle het nooit vir Jesus Christus gesien nie, maar julle is lief vir Hom. Julle sien Hom nou ook nie, maar julle glo in Hom. Ja, julle is baie bly, 'n mens kan nie met woorde sê of verduidelik hoe bly julle is nie, dit is God wat julle so bly maak. Julle is bly, want julle weet wat julle gaan kry: God sal vir julle red, julle wat in Christus glo. Die profete het baie hard probeer om uit te vind hoe God vir julle sal red, en hulle het vir julle die boodskap van genade gebring. Die Gees van Christus wat in die profete gewoon het, het lank gelede vertel dat Christus baie swaar sal kry en dat Hy daarna Koning sal wees. Die profete het probeer om uit te vind wanneer en hoe die dinge met Christus sal gebeur, die dinge waarvan die Gees gepraat het. God het vir die profete gewys dat hulle die goeie boodskap nie vir hulleself moes bring nie, maar vir julle. God het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees het vir die profete die goeie boodskap gegee wat hulle nou vir julle gebring het. Die engele wil ook graag hierdie dinge weet. Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom. Julle moet lewe soos kinders wat gehoorsaam is, julle moenie lewe soos julle voorheen gelewe het nie. In daardie tyd het julle nog nie die goeie boodskap van God geken nie, en toe wou julle graag slegte dinge doen. Nee, God het julle gekies om sy volk te wees en Hy is heilig. Daarom moet julle heeltemal lewe soos mense wat aan God behoort. Julle moet so lewe omdat daar in die Ou Testament geskryf is: “ Julle moet julleself aan My wy, want Ek is heilig.” Julle bid tot God en julle noem Hom julle Vader. Hy dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie en daarom sal Hy elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Daarom moet julle vir God respekteer terwyl julle soos vreemdelinge in die wêreld is. Julle weet dat Christus julle vrygemaak het van die slegte lewe wat niks beteken nie, julle het by julle voorvaders geleer om so te lewe. Christus het julle vrygemaak, maar Hy het julle nie gekoop met silwer of goud nie. Dit is dinge wat kan ophou om iets te beteken. Nee, Christus het julle vrygemaak met iets wat baie beter is, Hy het julle vrygemaak toe Hy gesterf het. Hy het gesterf soos 'n lam wat 'n offer was, 'n lam wat heeltemal gesond en perfek was. God het vir Christus gekies om dit te doen voordat God die wêreld gemaak het. Nou is dit die einde van die tyd, God het Christus vir julle gestuur. Julle glo in God omdat julle aan Christus behoort. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe en God het Hom Koning gemaak. Daarom glo julle in God, julle weet en julle is seker dat Hy julle sal red. Julle was gehoorsaam aan die waarheid en so het julle julleself gereinig, nou kan julle waarlik lief wees vir mekaar. Daarom moet julle baie lief wees vir mekaar, julle moenie vals wees en ophou om lief te wees vir mekaar nie. God het 'n nuwe lewe vir julle gegee, maar dit was nie soos wanneer 'n kind gebore word uit ouers wat kan sterf nie. Nee, God het vir julle hierdie nuwe lewe gegee toe Hy met julle gepraat het, God wat lewe en wat altyd daar is. Want in die Ou Testament is geskryf: Al die mense is soos gras. Hulle is miskien mooi en goed, maar hulle is soos die veldblomme. Gras word droog, en blomme val af, maar wat die Here sê, sal nooit verander nie.

1 PETRUS 1:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PETRUS, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry. Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien. DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees. As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

1 PETRUS 1:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap. In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.”

1 PETRUS 1:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

•Petrus, 'n •apostel van Jesus •Christus, aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word! Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus •Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons 'n lewende hoop mag hê op 'n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word. Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele. Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.

1 PETRUS 1:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge wat deur Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië verstrooi is, Uitverkies volgens die voorkennis van God die Vader, deur heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle wees. Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons na sy oorvloedige barmhartigheid wedergeboor het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, tot 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir julle bewaar is, wat deur die krag van God deur die geloof bewaar word tot redding wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. Waarin julle grootliks verheug is, al is julle nou vir 'n seisoen, as dit nodig is, in swaarmoedigheid deur menige versoeking: Sodat die beproewing van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan, alhoewel dit met vuur beproef word, gevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die verskyning van Jesus Christus. Wie julle liefhet, nadat julle nie gesien het nie; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo, julle verheug met onuitspreeklike en vol heerlikheid; Ontvang die einde van julle geloof, ja, die redding van julle siele. Waarvan die verlossing die profete ondersoek en ywerig ondersoek het, wat geprofeteer het oor die genade wat oor julle sou kom. Ondersoek wat, of hoe lank die Gees van Christus wat in hulle was, te kenne gegee het toe dit vooraf getuig het van die lyde van Christus en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan wie dit geopenbaar is, dat hulle nie vir hulleself nie, maar aan ons die dinge bedien het wat nou aan julle verkondig is deur die wat die evangelie aan julle verkondig het met die Heilige Gees wat van die hemel neergedaal is; watter dinge die engele begeer om na te kyk. Daarom, omgord die lendene van julle gemoed, wees nugter en hoop tot die einde toe op die genade wat julle gebring sal word by die openbaring van Jesus Christus; Moet julle as gehoorsame kinders nie in julle onkunde volgens die vroeëre begeerlikhede vorm nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, so moet julle ook in alle lewenswandel heilig wees; Want daar is geskrywe: Wees heilig; want Ek is heilig. En as julle die Vader aanroep, wat sonder aansien van persoon oordeel volgens elkeen se werk, bring die tyd van julle verblyf hier in vrees deur: Aangesien julle weet dat julle nie met verganklike dinge, soos silwer en goud, losgekoop is uit julle ydele wandel wat deur oorlewering van julle vaders ontvang is nie; Maar met die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos: wat wel voor die grondlegging van die wêreld vooraf verordineer is, maar in hierdie laaste tye vir julle geopenbaar is, wat deur Hom in God glo wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het; sodat jou geloof en hoop op God kan wees. Aangesien julle julle siele gereinig het in gehoorsaamheid aan die waarheid deur die Gees tot ongeveinsde liefde vir die broeders, sorg dat julle mekaar vurig liefhet met 'n rein hart. Wedergebore word, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die woord van God wat lewe en tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van gras. Die gras verdor, en sy blom val weg; Maar die woord van die Here is tot in ewigheid. En dit is die woord wat deur die evangelie aan julle verkondig word.

1 PETRUS 1:1-25 Die Boodskap (DB)

Petrus, wat spesiaal deur Jesus Christus gestuur is, het hierdie brief geskryf. Ek skryf aan die mense wat God vir Hom gekies het en wie se lewe nie net om die dinge van hierdie wêreld draai nie. Ek praat van die gelowiges wat verjaag is en nou versprei in die hele Turkye bly. God, hulle Vader, weet al lankal dat hulle Syne is, want die Heilige Gees het hulle Syne gemaak. Daarom luister hulle nou na Hom. Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is; daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee. Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig en veilig by Hom voel, sonder dat enigiets julle pla. God, die Vader van Jesus Christus, is darem groot en wonderlik. Hy self het ons sy kinders gemaak. ’n Mens staan verstom voor sy geweldige goedheid. God het ons beloof dat wat Syne is, ook ons s’n is. Met al die dinge wat Hy vir ons beloof het, kan niks skeefloop nie, want dit kan nie stukkend of verlore raak nie. God bêre dit vir ons daar by Hom. Daarom twyfel ons nie een oomblik dat God sy woord gaan hou nie. Ons weet dit gaan gebeur, al weet ons nie wanneer nie. God het mos bewys dat Hy al die dinge vir ons kan en wil doen toe Hy Jesus uit die dood opgewek het. God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees. Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie. Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word. As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly, sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat. Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou. Dit is nie asof alles eers eendag daar ver gaan gebeur nie. Omdat ons op Jesus vertrou, kan ons sê dat ons saak nou reeds met God reg is. Dit is waarom ons in Jesus glo. Ek kan julle nie sê hoe bly dit ons maak nie. Ons loop behoorlik oor van dié wonderlike vreugde. Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg. Die Skrif sê: “Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.” Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het. Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie! God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer. Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen. Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie. Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak. Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar. Die Skrif sê nie verniet nie: “Elke mens is slegs soos ’n grashalmpie. Dit is met mense nie anders as met ’n blom in die veld nie. Die grashalmpie verdroog maklik en die blom se blaartjies val na ’n rukkie nutteloos op die grond. Dit is so tydelik. Maar die Woord van die Here sal altyd waar bly.” Hierdie “Woord” is die goeie boodskap oor Jesus wat julle gehoor het.