1 KONINGS 3:1-28

1 KONINGS 3:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Salomo het 'n ooreenkoms gemaak met die farao, die koning van Egipte. Hy het met die dogter van die farao getrou en hy het haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel en die muur rondom Jerusalem klaar gebou het. Die mense het in daardie tyd nog aangehou om op die offer-plekke te offer, want die tempel vir die Here was nog nie gebou nie. Salomo self was lief vir die Here en hy het alles gedoen wat Dawid vir hom gesê het, maar hy het op die offer-plekke ge-offer en daar wierook gebrand. Die koning het na Gibeon gegaan om daar te offer, want dit was die belangrikste offer-plek. Hy het op daardie altaar 1 000 brand-offers ge-offer. Daar in Gibeon het die Here een nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Jy mag vir My enige iets vra, en Ek sal dit vir jou gee.” Salomo het toe gesê: “U het vir my en vir my pa Dawid gedoen wat U belowe het. My pa het aangehou om U te dien, en hy was 'n regverdige en eerlike mens wat vir U gedien het. U het gedoen wat U vir hom belowe het en U het vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit. My God die Here, U het my die koning laat word in my pa se plek, maar ek is baie jonk en ek weet nie hoe om 'n leier te wees nie. Ek is hier saam met u volk, U het hulle gekies. Hulle is 'n groot volk, so groot dat 'n mens hulle nie kan tel en elkeen se naam kan noem nie. U moet my help om gehoorsaam te wees aan U sodat ek reg kan regeer oor u volk en sodat ek kan weet wat reg is en wat verkeerd is. Niemand kan oor hierdie belangrike volk van U regeer as U hom nie help nie.” Die Here was bly dat Salomo dit gevra het. Hy het vir Salomo gesê: “Jy het dit gevra, jy het nie 'n lang lewe gevra of om ryk te word nie, of dat jou vyande moet sterf nie. Jy het gevra dat jy sal weet wat reg is. Daarom sal Ek nou doen wat jy gevra het. Ek gee vir jou wysheid en verstand, niemand vóór jou het soveel wysheid gehad nie en niemand ná jou sal soveel wysheid hê nie. Ek gee ook vir jou wat jy nie gevra het nie. Jy sal jou hele lewe lank die rykste wees van al die konings, en die mense sal jou meer respekteer as vir die ander konings. As jy lewe soos Ek wil hê en as jy doen wat Ek vir jou gesê het, soos jou pa Dawid ook gedoen het, dan sal Ek jou lank laat lewe.” Toe Salomo wakker word, het hy geweet die Here het met hom gepraat in 'n droom. Hy het na Jerusalem gegaan en hy het voor die verbondskis van die Here gaan staan. Hy het brand-offers en ete-offers gebring en hy het al sy amptenare genooi om saam met hom te eet. Eendag het twee vroue wat prostitute was, na die koning toe gekom en voor hom kom staan. Die een vrou het gesê: “Asseblief, Meneer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het 'n kind gekry. Hierdie vrou was by my in die huis. Op die derde dag nadat ek die kind gekry het, het hierdie vrou ook 'n kind gekry. Ons was saam, niemand anders was by ons nie. Net ons twee was in die huis. Maar hierdie vrou se kind het daardie nag gesterf, sy het hom doodgelê. Toe staan sy in die middel van die nag op en sy vat mý kind terwyl ek slaap en sy sit hom by haar neer en sy sit haar seun wat dood is, by my neer. Toe ek die volgende oggend opstaan om my kind te laat drink, sien ek hy is dood. Maar toe ek die oggend goed na hom kyk, sien ek dit is nie die kind wat ek gekry het nie.” Maar die ander vrou het gesê: “Nee, die kind wat lewe, is mý kind. Die kind wat dóód is, is jóú kind.” En die vrou wat eerste gepraat het, het gesê: “Nee, jou kind is die kind wat dood is, my kind is die kind wat lewe.” So het hulle voor die koning gestaan en twis. Die koning dink toe: Hierdie vrou sê die seun wat lewe, is haar kind, en die seun wat dood is, is die ander vrou se kind. Daardie vrou sê: “Nee, jóú seun is dood, dit is mý seun wat lewe.” Toe sê die koning: “Bring vir my 'n swaard.” Iemand het vir hom 'n swaard gebring, en die koning het gesê: “Kap die kind wat lewe, in twee stukke en gee vir elke vrou 'n stuk.” Die vrou wat die ma was van die kind wat lewe, het met die koning gepraat. Sy was jammer vir haar seun, en sy het gesê: “Asseblief, Meneer, gee die kind vir daardie vrou, moenie hom doodmaak nie.” Maar die ander vrou het gesê: “Hy sal nie my kind wees nie en ook nie jou kind nie. Kap hom in twee stukke.” Toe sê die koning: “Gee die kind wat lewe vir die vrou wat sê hy moet lewe, moenie hom doodmaak nie, sý is die kind se ma.” Al die Israeliete het gehoor hoe die koning ge-oordeel het. Hulle het die koning gerespekteer, want hulle het gesien dat God self vir die koning wysheid gegee het om reg te kan oordeel.

1 KONINGS 3:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Salomo het hom verswaer met Farao, die koning van Egipte; hy het naamlik die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebring totdat hy met die bou van sy huis en die huis van die HERE en die muur van Jerusalem rondom klaar sou wees. Alleenlik het die volk gedurig op die hoogtes geoffer, omdat tot op daardie dae daar geen huis vir die Naam van die HERE gebou was nie. En Salomo het die HERE liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; hy het net gedurig op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan. En die koning het na Gíbeon gegaan om daar te offer, omdat dit die vernaamste hoogte was; duisend brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer. Toe verskyn die HERE in Gíbeon in 'n nagtelike droom aan Salomo; en God het gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. En Salomo sê: U het aan u kneg, my vader Dawid, 'n groot guns bewys, net soos hy voor u aangesig gewandel het in trou en in geregtigheid en in opregtheid van hart met U; en U het vir hom hierdie groot guns bewaar, dat U hom 'n seun gegee het wat op sy troon sit, soos dit vandag is. Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is 'n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie. En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, 'n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. Gee dus aan u kneg 'n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer? En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou 'n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou 'n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie. Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie. En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng. Toe word Salomo wakker, en — dit was 'n droom! Daarop het hy in Jerusalem gekom en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers gebring en dankoffers berei en 'n maaltyd vir al sy dienaars aangerig. In dié tyd kom daar twee vroue wat hoere was, na die koning, en hulle gaan voor hom staan. En die een vrou sê: Ag, my heer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het by haar in die huis gebaar. En op die derde dag ná my bevalling het hierdie vrou ook gebaar terwyl ons saam was; niemand anders was by ons in die huis nie, maar net ons twee in die huis. En die seun van hierdie vrou het in die nag gesterwe, omdat sy op hom gelê het. Toe staan sy in die middel van die nag op en neem my seun langs my weg terwyl u dienares slaap; en sy het hom in haar skoot neergelê, maar haar dooie seun in my skoot neergelê. Toe ek die môre opstaan om my seun te soog, was hy dood; maar in die môre het ek hom goed bekyk, en dit was nie my seun wat ek gebaar het nie! Maar die ander vrou sê: Nee, maar die lewendige is my seun, en die dooie is jou seun. Maar die eerste sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige is my seun. So het hulle dan voor die koning gestry. Toe dink die koning: Die een sê: Dit is my seun, die lewendige, en jou seun, die dooie. En die ander sê: Nee, maar die dooie is jou seun, en die lewendige my seun. Daarop gee die koning bevel: Bring vir my 'n swaard! En hulle het die swaard voor die koning gebring. En die koning sê: Sny die lewendige kind in twee stukke, en gee die helfte aan die een en die helfte aan die ander. Maar die vrou wie se kind die lewendige was, het met die koning gespreek, want haar binneste was ontroerd oor haar seun — sy het gesê: Ag, my heer, gee haar die lewendige kind en maak hom tog nie dood nie! — terwyl die ander een sê: Hy sal nie myne en ook nie joue wees nie; sny deur! Toe antwoord die koning en sê: Gee haar die lewendige kind en maak hom in geen geval dood nie: sy is die moeder. En die hele Israel het gehoor van die vonnis wat die koning uitgespreek het, en was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.

1 KONINGS 3:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het. In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie 'n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie. Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring. Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring. Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit. Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het. Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie. Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog 'n lang lewe gee.” Toe Salomo wakker word, het hy besef dat die Here in 'n droom aan hom verskyn het. Hy is toe terug na Jerusalem toe, en daar het hy voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hy het ook 'n feesmaal vir al sy amptenare gegee. Op 'n keer het twee prostitute met 'n saak na die koning toe gekom. “U Majesteit,” sê die een vrou, “ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek 'n kind in die wêreld gebring het. Drie dae daarna het sy ook 'n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar. Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê. Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer. Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.” Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!” En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!” So het hulle voor die koning gestaan en stry. Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.” Toe beveel die koning: “Bring vir my 'n swaard!” Hulle het die swaard gebring, en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!” Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!” Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!” Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.

1 KONINGS 3:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Salomo het die skoonseun van die farao, die koning van Egipte, geword. Hy het die dogter van die farao as vrou geneem. Hy het haar na die Stad van Dawid gebring, totdat hy klaar was met die bou van sy paleis en die huis van die HERE, en met die muur rondom Jerusalem. Die volk het nog steeds net op die offerhoogtes geoffer, omdat 'n huis vir die Naam van die HERE tot in daardie tyd nog nie gebou was nie. Salomo het sy liefde vir die HERE getoon deur die vaste voorskrifte van Dawid, sy vader, te volg, behalwe dat ook hy nog steeds op die offerhoogtes geoffer en wierook gebrand het. Salomo gaan toe na Gibeon om daar te offer, want dit was die belangrikste offerhoogte. 'n Duisend •brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer. By Gibeon het die HERE in die nag in 'n droom aan Salomo verskyn. God het gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U. U het hierdie oorvloedige troue liefde teenoor hom volgehou en aan hom 'n seun gegee wat op sy troon sit, soos dit vandag is. En nou, HERE my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is 'n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, 'n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. Gee dan aan u dienskneg 'n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?” Dit was goed in die oë van die Heer dat Salomo juis dit gevra het. God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself 'n lang lewe gevra het, nie vir jouself rykdom gevra het, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – kyk, Ek voldoen aan jou versoek: Ja, Ek gee aan jou 'n wyse en verstandige hart, sodat daar voor jou niemand was soos jy nie, en ná jou niemand soos jy sal opstaan nie. Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: sowel rykdom as eer, sodat, solank jy leef, daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie. As jy my paaie volg soos jou vader Dawid, deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, sal Ek aan jou 'n lang lewe gee.” Salomo word toe wakker, en sowaar, dit was 'n droom! Hy het in Jerusalem aangekom en voor die verbondsark van die Heer gaan staan. Hy het brandoffers gebring en •maaltydoffers geoffer en 'n feesmaal gehou vir al sy amptenare. Daarna het twee vroue wat prostitute was, na die koning gekom en voor hom gaan staan. Die een vrou het gesê: “Asseblief, my heer! Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het by haar in die huis geboorte geskenk. Op die derde dag nadat ek geboorte geskenk het, het ook hierdie vrou geboorte geskenk. Ons was saam; daar was geen buitestander by ons in die huis nie, net die twee van ons was in die huis. Die seuntjie van hierdie vrou is in die nag dood, want sy het op hom gelê. Maar in die middel van die nag het sy opgestaan en my seuntjie langs my gevat terwyl u dienares geslaap het. Sy het hom teen haar bors neergelê, en haar dooie seuntjie het sy teen my bors neergelê. Toe ek die oggend opstaan om my seuntjie te voed, toe is hy dood! Maar toe ek hom die oggend goed bekyk, sowaar, toe is dit nie my seuntjie wat ek in die wêreld gebring het nie!” Die ander vrou sê toe: “Nee! My seuntjie is die lewende een! Jou seuntjie is die dooie een!” Die eerste vrou het egter volgehou: “Nee! Jou seuntjie is die dooie een! My seuntjie is die lewende een!” So het hulle voor die koning gestry. Die koning het gesê: “Hierdie een hou vol, ‘Dit is my seun, die lewende een, en jou seun is die dooie een.’ En daardie een hou vol, ‘Nee! Jou seun is die dooie een, en my seun die lewende.’ ” Toe sê die koning: “Bring vir my 'n swaard.” Hulle bring toe die swaard voor die koning. Daarna sê die koning: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte vir die een vrou en die ander helfte vir die ander vrou.” Maar die vrou wie se kind die lewende een was, praat toe met die koning omdat haar deernis vir haar seuntjie haar oorweldig het. Sy het vir die koning gesê: “Asseblief, my heer! Gee liewer die lewende kindjie vir haar – moet hom net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het volgehou: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!” Daarop het die koning gereageer deur te sê: “Gee vir die eerste vrou die lewende kindjie. Moet hom glad nie doodmaak nie! Sy is sy ma.” Toe die hele Israel hoor van die beslissing wat die koning gelewer het, het hulle vir die koning ontsag gehad, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om die reg te handhaaf.

1 KONINGS 3:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Salomo het 'n band met Farao, die koning van Egipte, geneem en Farao se dogter geneem en haar in die stad van Dawid gebring totdat hy klaar gemaak het met die bou van sy eie huis en die huis van die HERE en die muur van Jerusalem rondom. Net die volk het op hoogtes geoffer, want daar was tot op daardie dae geen huis vir die Naam van die HERE gebou nie. En Salomo het die HERE liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; hy het net op hoogtes geoffer en rook laat opgaan. En die koning het na Gíbeon gegaan om daar te offer; want dit was die groot hoogte: duisend brandoffers het Salomo op daardie altaar gebring. In Gíbeon het die HERE snags in 'n droom aan Salomo verskyn, en God het gesê: Vra wat Ek jou sal gee. Toe sê Salomo: U het aan u kneg, my vader Dawid, groot barmhartigheid bewys soos hy voor u aangesig gewandel het in waarheid en in geregtigheid en in opregtheid van hart met u; en jy het vir hom hierdie groot goedertierenheid bewaar, dat jy hom 'n seun gegee het om op sy troon te sit, soos dit vandag is. En nou, HERE my God, het U u kneg koning gemaak in die plek van my vader Dawid, en ek is maar 'n klein kindjie; ek weet nie hoe om uit of in te gaan nie. En u kneg is in die midde van u volk wat U uitverkies het, 'n groot volk wat nie getel of getel kan word vanweë die menigte nie. Gee dan aan u dienaar 'n verstandige hart om u volk te oordeel, dat ek tussen goed en kwaad kan onderskei; want wie kan hierdie groot volk van u oordeel? En die woord het die HERE behaag, dat Salomo dit gevra het. Toe sê God vir hom: Omdat jy hierdie ding gevra het en vir jou geen lang lewe gevra het nie; jy het nie vir jou rykdom gevra nie, en die lewe van jou vyande nie gevra nie; maar jy het vir jou insig gevra om oordeel te onderskei; Kyk, Ek het gehandel volgens jou woorde; kyk, Ek het jou 'n wyse en verstandige hart gegee; sodat daar niemand soos jy voor jou was nie, en ná jou sal niemand soos jy opstaan nie. En Ek het jou ook gegee wat jy nie gevra het nie, rykdom sowel as eer, sodat daar nie iemand onder die konings sal wees soos jy al jou dae nie. En as jy in my weë wil wandel om my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng. En Salomo het wakker geword; en kyk, dit was 'n droom. En hy het in Jerusalem gekom en voor die verbondsark van die HERE gaan staan en brandoffers gebring en dankoffers gebring en 'n feesmaal vir al sy dienaars berei. Toe kom daar twee vroue wat hoere was, na die koning en staan voor hom. En die een vrou sê: O my heer, ek en hierdie vrou woon in een huis; en ek het 'n kind by haar in die huis gekry. En op die derde dag nadat ek gebaar is, is hierdie vrou ook gebaar; en ons was saam; daar was geen vreemdeling by ons in die huis nie, behalwe ons twee in die huis. En hierdie vrou se kind het in die nag gesterf; want sy het dit oorgetrek. En sy het middernag opgestaan en my seun langs my weggeneem, terwyl u dienares slaap, en dit in haar boesem neergelê en haar dooie kind in my boesem neergelê. En toe ek die môre opstaan om my kind te soog, kyk, hy was dood; maar toe ek dit in die môre oorweeg het, kyk, dit was nie my seun wat ek gebaar het nie. En die ander vrou sê: Nee; maar die lewende is my seun, en die dooie is jou seun. En dit het gesê: Nee; maar die dooie is jou seun, en die lewende is my seun. So het hulle voor die koning gespreek. Toe sê die koning: Die een sê: Dit is my seun wat lewe, en jou seun is dood; en die ander sê: Nee! maar jou seun is die dood, en my seun is die lewende. Toe sê die koning: Bring vir my 'n swaard. En hulle het 'n swaard voor die koning gebring. Toe sê die koning: Verdeel die lewende kind in twee en gee die helfte aan die een en die helfte aan die ander. Toe het die vrou wie se lewende kind was, met die koning gespreek, want haar ingewande het verlang na haar seun, en sy het gesê: O my heer, gee haar die lewende kind en maak dit nooit dood nie. Maar die ander een sê: Laat dit nie myne of joune wees nie, maar verdeel dit. Toe antwoord die koning en sê: Gee haar die lewende kind, en maak dit geensins dood nie; sy is die moeder daarvan. En die hele Israel het gehoor van die oordeel wat die koning gerig het; en hulle was bang vir die koning, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om oordeel te doen.

1 KONINGS 3:1-28 Die Boodskap (DB)

Salomo het ’n ooreenkoms met die koning van Egipte gesluit deur met sy dogter te trou. Hy het sy nuwe vrou Jerusalem toe gebring en haar in die Dawidstad laat woon. Salomo se paleis, die tempel en die stadsmure was toe nog nie klaar gebou nie. Omdat daar nog nie ’n tempel vir die Here was nie, het die volk op verskillende plekke in die land geoffer. Salomo was lief vir die Here en het gemaak soos sy pa gesê het. Hy het die Here se wil gedoen en was getrou aan Hom. Salomo moes egter ook soos die volk op verskillende plekke vir die Here offer. Op ’n keer het hy in Gibeon gaan offer, omdat dit die bekendste offerplek was. Salomo het 1 000 brandoffers daar op die altaar geoffer. Daardie nag het die Here met Salomo in ’n droom gepraat en vir hom gevra: “Wat kan Ek vir jou gee?” Salomo het gesê: “Here, U was lief vir my pa en hy was ook lief vir U. My pa was getrou aan U; hy wou net die regte dinge doen en hy wou U met sy hele hart dien. En U was goed vir my pa deur hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg en wat vandag oor Israel regeer. Here, U het my in die plek van my pa koning gemaak, maar ek weet nie altyd hoe om goed te regeer nie, want ek is nog jonk. Ek moet oor ’n volk regeer wat U vir Uself gekies het, en daar is so baie van hulle dat ek hulle nie eens kan tel nie. Daarom vra ek u wysheid om goed oor u mense te regeer. Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hoe kan ek sonder u hulp hierdie groot volk van U regeer?” Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het. Hy sê toe vir hom: “Jy het nie ’n lang lewe of baie geld of die ondergang van jou vyande gevra nie, maar die wysheid om goed te regeer. Ek sal alles vir jou gee. Ek sal jou trouens baie meer wysheid en insig gee as wat enigeen voor jou gehad het, of selfs na jou sal hê. Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie. As jy soos jou pa na My luister en my wil doen, sal Ek jou ook baie lank laat leef.” Salomo het wakker geword en besef die Here het in ’n droom met hom gepraat. Hy is reguit Jerusalem toe en het daar voor die ark van die ooreenkoms aanmekaar geoffer. Hy was so bly en gelukkig dat hy uit dankbaarheid talle offers vir die Here gebring het. Toe hy daarmee klaar was, het hy ’n groot fees vir al sy amptenare gehou. Op ’n dag het twee prostitute na Salomo toe gekom en hulle probleem aan hom vertel. Eers het die een prostituut haar kant van die saak gestel en gesê: “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon saam in dieselfde huis. My seun is in die huis gebore terwyl hierdie vrou by was. Twee dae na my seun se geboorte het sy self ’n seun in wêreld gebring. Slegs ons twee was in die huis toe die kinders gebore is. Niemand was by ons toe dit gebeur het nie. Een nag het dié vrou per ongeluk in haar slaap op die kind gelê en hy het versmoor. Gedurende die nag het sy toe stil-stil opgestaan en die slapende kind langs my opgetel en na haar bed toe geneem. Toe het sy die dooie kind gevat en hom langs my in die bed gesit. Vroeg die volgende oggend het ek wakker geword om my kind te voed. Dit is toe dat ek sien hy is dood. Ek het stip na die kind gekyk en besef dit is nie my seun nie.” Die ander vrou het dit ontken en gesê: “Nee, jy is verkeerd. Die kind wat leef, is myne en die dooie een is joune.” So het hulle voor die koning staan en stry. Salomo het goed geluister en toe vir homself gesê: “Die een sê: ‘Die kind wat leef, is myne,’ terwyl die ander een weer sê: ‘Dit is nie waar nie. Jou kind is dood. Dit is myne wat nog leef.’” Salomo het vir ’n swaard gevra en toe gesê: “Sny die een wat leef, middeldeur en gee aan elke vrou ’n helfte.” Toe die regte ma dit hoor, het haar hart inmekaargekrimp. Sy was so lief vir die kind dat sy onmiddellik vir die koning gesê het: “Asseblief, U Majesteit, asseblief. Moet tog net nie die kind doodmaak nie. Laat sy dan maar die kind kry, maar moet hom tog net nie doodmaak nie.” Die ander vrou het weer gesê: “Sny die kind in die middel deur sodat nie een van ons iets van hom sal hê nie.” Salomo het toe gesê: “Stop! Moenie die kind doodmaak nie! Gee hom vir die eerste vrou, want sy is die kind se regte ma.” Toe die mense hiervan hoor, was hulle diep beïndruk en het groot respek vir Salomo gehad. Hulle het gesê die Here het hom insig en wysheid gegee om regverdig in hofsake te oordeel.

1 KONINGS 3:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo het ’n verdrag gesluit met Farao, die koning van Egipte. Hy het met een van sy dogters getrou en haar na die Dawidstad toe gebring. Hy het haar daar laat woon totdat hy sy paleis, die tempel van die HERE en die muur rondom die stad voltooi het. Toe het die Israeliete nog oral op die hoogtes geoffer omdat daar nog nie ’n tempel tot eer van die Naam van die HERE was nie. Salomo het die HERE liefgehad en het volgens die voorskrifte van sy pa, Dawid, gelewe. Hy het egter ook nog op die hoogtes geoffer. Die belangrikste van hierdie altare was by Gibeon. Daarom het die koning daarheen gegaan en 1 000 brandoffers geoffer. Daardie nag het die HERE in Gibeon in ’n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: “Vra wat jy wil hê en Ek sal dit vir jou gee!” Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir my pa, Dawid, omdat hy eerlik, opreg en getrou aan U was. U was besonder goed deur boonop vir hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg. O HERE my God, U het my koning gemaak in die plek van my pa, Dawid. Maar ek is soos ’n klein seuntjie wat nog nie weet hoe om op te tree nie. Hier is ek tussen die mense van die volk wat U uitverkies het, ’n volk so talryk dat hulle nie getel kan word nie! Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer, want wie kan op sy eie oor hierdie groot volk van U regeer?” Die Here was tevrede met Salomo se antwoord en was bly dat hy hierdie dinge gevra het. Die HERE het hom geantwoord: “Omdat jy dit gevra het en nie vir ’n lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande nie, maar vir onderskeiding om met insig te kan oordeel; daarom sal Ek vir jou gee wat jy gevra het. Ek sal jou die vermoë gee van wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het of na jou sal hê nie! Daarby gee Ek vir jou ook dit waarvoor jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien. So lank as wat jy leef, sal geen koning met jou vergelyk kan word nie. As jy My dien en gehoorsaam is aan my voorskrifte en bepalings soos jou pa, Dawid, sal Ek jou ’n lang lewe gee.” Toe het Salomo wakker geword en besef dat dit ’n droom was. Hy het na Jerusalem toe teruggekeer en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het hy al sy amptenare op ’n groot feesmaal trakteer. ’n Tyd daarna het twee prostitute na die koning toe gekom vir beslegting van ’n geskil. “Asseblief, my heer die koning,” het die een gesê, “ek en hierdie vrou bly saam in dieselfde huis. Ek het ’n baba in die wêreld gebring terwyl sy by my in die huis was. Drie dae later het sy ook ’n baba gehad. Ons was alleen, en daar was geen ander persoon nie. Dis net die twee van ons wat in die huis was. Een nag het haar seuntjie gesterf toe sy op hom gelê het. In die middel van die nag het sy opgestaan terwyl ek nog geslaap het en my seuntjie gevat. Sy neem toe haar dooie kind, lê hom in my arms en neem myne om by haar te slaap. Toe ek in die oggend my kind wou laat drink, ontdek ek dat hy dood is! Maar toe ek hom later in die oggend goed bekyk, merk ek dat dit glad nie my seun is nie.” Die ander vrou val haar toe in die rede: “Nee! Die een wat lewe, is my seun! Die dooie een is beslis jou seun!” “Nee,” sê die eerste vrou, “die seuntjie wat dood is, is joune en die lewende een is myne!” So het hulle voor die koning met mekaar gestry. Toe sê die koning: “Albei van julle maak aanspraak op die lewende kind, en albei sê die dooie een is die ander een s’n. Goed, bring vir my ’n swaard.” Iemand het vir hom ’n swaard gebring. Hy sê toe: “Sny die lewende kind in twee en gee ’n helfte vir elkeen van hulle!” Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!” Maar die ander vrou sê: “Dis goed so, dan sal hy nóg myne nóg joune wees. Sny hom deur!” Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie. Gee die lewende kind aan die eerste vrou. Sy is die regte ma!” Die koning se uitspraak het in die hele Israel bekend geword. Hulle het groot respek vir die koning gekry, want hulle het besef dat God besondere wysheid aan hom gegee het om regverdig te kan oordeel.