1 KONINGS 19:2-8
1 KONINGS 19:2-8 Bybel vir almal (ABA)
Toe stuur Isebel vir Elia 'n boodskap en sê: “Ek bid dat die gode my sal help sodat ek môre hierdie selfde tyd met jou sal gedoen het wat jy met die profete van Baäl gedoen het.” Elia het bang geword. Hy het gereedgemaak en gevlug, sodat Isebel hom nie kan doodmaak nie. Toe hy by die stad Berseba kom, het hy en die jongman by hom daar gerus. Daarna het hy alleen 'n hele dag lank verder in die woestyn in geloop. Hy het daar onder 'n besembos gaan sit en hy het gewens hy sterf. Hy het gesê: “Here, dit is nou genoeg. U moet my laat sterf, want ek is nie beter as my voorvaders nie.” Elia het gaan lê, en hy het onder die besembos aan die slaap geraak. Toe kom daar 'n engel en die engel raak aan hom en sê vir hom: “Jy moet opstaan en eet.” Toe Elia kyk, sien hy by sy kop 'n gaar roosterkoek en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar toe raak die engel weer aan hom en hy sê: “Jy moet opstaan en eet. As jy dit nie doen nie, dan sal jy nie die hele pad kan loop nie.” Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God.
1 KONINGS 19:2-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop stuur Isébel 'n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy 'n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder 'n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder 'n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak 'n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent 'n broodkoek, op warm klippe gebak, en 'n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.
1 KONINGS 19:2-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.
1 KONINGS 19:2-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
stuur Isebel 'n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.” Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het egter die woestyn in gegaan, 'n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder 'n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, HERE! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos. Skielik was daar 'n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop 'n roosterkoek op gloeiende kole gebak en 'n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar die •engel van die HERE het 'n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God.
1 KONINGS 19:2-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe stuur Isébel 'n boodskapper na Elia om te sê: Laat die gode so aan my doen, en nog meer, as ek nie môre omtrent hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie. En toe hy dit sien, het hy opgestaan en vir sy lewe gevlug en in Berséba gekom wat aan Juda behoort, en sy dienaar daar agtergelaat. Maar hy het self 'n dagreis die woestyn in gegaan en gekom en onder 'n jenewerboom gaan sit; en hy het vir homself gevra dat hy moes sterf; en gesê: Dit is genoeg; neem nou, o HERE, my lewe weg; want ek is nie beter as my vaders nie. En terwyl hy lê en slaap onder 'n jenewerboom, kyk, toe raak 'n engel hom en sê vir hom: Staan op en eet. En hy kyk, en kyk, daar was 'n koek wat op die kole gebak is, en 'n kruik water aan sy kop. En hy het geëet en gedrink en hom weer neergelê. En die Engel van die HERE het weer vir die tweede keer gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op en eet; want die reis is te groot vir jou. En hy het opgestaan en geëet en gedrink en met die krag van daardie spys veertig dae en veertig nagte na Horeb, die berg van God, gegaan.
1 KONINGS 19:2-8 Die Boodskap (DB)
Isebel was woedend. Sy het toe vir Elia ’n boodskap gestuur: “As ek jou nie binne 24 uur doodmaak soos jy die Baälprofete doodgemaak het nie, moet die gode my maar laat sterf.” Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.” Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.” Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.” Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap.
1 KONINGS 19:2-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe stuur Isebel vir Elia ’n boodskap: “Mag die gode my met die dood straf as ek nie teen môre hierdie tyd jou lewe neem soos jy met die profete gemaak het nie.” Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf. “Ek het nou genoeg gehad, HERE,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!” Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop.