1 KONINGS 17:8-16

1 KONINGS 17:8-16 Bybel vir almal (ABA)

Toe het die Here vir Elia gesê: “Jy moet gereedmaak en na die stad Sarfat gaan in die land van die Sidoniërs. Jy moet daar gaan bly. Ek het vir 'n weduwee daar gesê sy moet vir jou kos gee.” Elia het gereedgemaak en na Sarfat gegaan. Toe hy by die poort van die stad kom, was 'n weduwee daar besig om hout bymekaar te maak. Hy het haar geroep en gevra: “Gee asseblief vir my 'n bietjie water in 'n beker sodat ek dit kan drink.” Toe sy gaan om die water te gaan haal, skree hy vir haar: “Bring asseblief ook vir my 'n stukkie brood saam.” Sy het gesê: “So seker soos jou God die Here lewe, ek het niks wat gaar is nie. Ek het nog net 'n handvol meel in 'n kruik en 'n bietjie olyf-olie in 'n bottel. Wanneer ek klaar 'n paar stukkies hout bymekaargemaak het, dan gaan ek vir my en my seun iets maak om te eet. Daarna sal ons sterf.” Elia het vir haar gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie. Gaan doen wat jy wil doen, maar maak eers vir my 'n klein broodjie gaar, daarna kan jy vir jou en jou seun brood gaarmaak. Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyf-olie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.” Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê.

1 KONINGS 17:8-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood saam. Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

1 KONINGS 17:8-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE kom toe tot hom: “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” Maar sy antwoord: “So waar as die HERE u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. Want so sê die HERE, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee.’ ” Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Elia gespreek het.