1 KONINGS 17:1-16

1 KONINGS 17:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Die profeet Elia van Tisbe het nie self grond gehad nie, hy het in Gilead by ander mense gewoon. Hy het vir Agab gesê: “Daar sal hierdie jaar nie reën of dou wees nie. Dit sal net reën of dou as ek so sê. Dit is so seker soos die Here lewe, die God van Israel vir wie ek werk.” Daarna het die Here vir Elia gesê: “Jy moet hier weggaan. Gaan oos, oor die Jordaan-rivier, en gaan kruip weg in die Krit-vallei. Jy kan water drink uit die stroom in die vallei, en Ek het vir die kraaie gesê hulle moet vir jou kos bring.” Elia het gegaan en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy het in die Krit-vallei anderkant die Jordaan-rivier gaan bly. Die kraaie het elke oggend en elke aand brood en vleis vir hom gebring, en hy het water uit die stroom in die vallei gedrink. Dit het nie gereën nie, en daar was later nie meer water in die Krit-vallei nie. Toe het die Here vir Elia gesê: “Jy moet gereedmaak en na die stad Sarfat gaan in die land van die Sidoniërs. Jy moet daar gaan bly. Ek het vir 'n weduwee daar gesê sy moet vir jou kos gee.” Elia het gereedgemaak en na Sarfat gegaan. Toe hy by die poort van die stad kom, was 'n weduwee daar besig om hout bymekaar te maak. Hy het haar geroep en gevra: “Gee asseblief vir my 'n bietjie water in 'n beker sodat ek dit kan drink.” Toe sy gaan om die water te gaan haal, skree hy vir haar: “Bring asseblief ook vir my 'n stukkie brood saam.” Sy het gesê: “So seker soos jou God die Here lewe, ek het niks wat gaar is nie. Ek het nog net 'n handvol meel in 'n kruik en 'n bietjie olyf-olie in 'n bottel. Wanneer ek klaar 'n paar stukkies hout bymekaargemaak het, dan gaan ek vir my en my seun iets maak om te eet. Daarna sal ons sterf.” Elia het vir haar gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie. Gaan doen wat jy wil doen, maar maak eers vir my 'n klein broodjie gaar, daarna kan jy vir jou en jou seun brood gaarmaak. Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyf-olie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.” Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê.

1 KONINGS 17:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord! Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is; en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou. En hy het gegaan en gehandel volgens die woord van die HERE: hy het gaan bly by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is. En die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en vleis, en hy het uit die spruit gedrink. Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood saam. Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

1 KONINGS 17:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.” Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie. Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar 'n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief 'n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief 'n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

1 KONINGS 17:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Elia, 'n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: “So waar as die HERE, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.” Die woord van die HERE kom toe daarna tot hom: “Gaan weg hiervandaan; draai oos en gaan kruip weg by die spruit Krit, wat oos van die Jordaan is. Uit die spruit kan jy drink, en vir die kraaie sal Ek opdrag gee om jou daar van kos te voorsien.” Hy het gegaan en gemaak soos die HERE gesê het. Hy het by die spruit Krit gaan bly wat oos van die Jordaan is. Die kraaie het telkens vir hom brood en vleis in die oggend gebring, en brood en vleis teen die aand; en uit die spruit kon hy drink. Maar ná verloop van baie dae het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie. Die woord van die HERE kom toe tot hom: “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” Maar sy antwoord: “So waar as die HERE u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. Want so sê die HERE, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee.’ ” Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Elia gespreek het.

1 KONINGS 17:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Elía, die Tisbiet, wat uit die inwoners van Gílead was, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef voor wie ek staan, in hierdie jare sal daar geen dou of reën wees nie, behalwe volgens my woord. En die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Gaan weg hiervandaan en draai jou na die ooste en verberg jou by die spruit Kreit wat voor die Jordaan is. En jy moet uit die spruit drink; en Ek het die kraaie beveel om jou daar te voed. Hy het toe gegaan en gehandel volgens die woord van die HERE, want hy het gegaan en gaan woon by die spruit Kreit wat voor die Jordaan is. En die kraaie het vir hom brood en vleis in die môre gebring en in die aand brood en vleis; en hy het uit die spruit gedrink. En ná 'n ruk het die spruit opgedroog, omdat daar geen reën in die land was nie. En die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Staan op, gaan na Sarfat wat aan Sidon behoort, en woon daar; kyk, Ek het 'n weduwee daar bevel gegee om jou te onderhou. Hy het toe opgestaan en na Sarfat gegaan. En toe hy by die poort van die stad kom, was die weduwee daar besig om stokke bymekaar te maak; en hy het na haar geroep en gesê: Haal tog vir my 'n bietjie water in 'n houer, dat ek kan drink. En terwyl sy dit gaan haal, roep hy haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood in jou hand. Toe sê sy: So waar as die HERE jou God leef, ek het nie 'n koek nie, maar 'n handvol meel in 'n vat en 'n bietjie olie in 'n kruik; en kyk, ek maak twee stokke bymekaar om in te gaan en maak dit vir my en my seun gereed, dat ons dit kan eet en sterf. En Elía sê vir haar: Moenie vrees nie; gaan en doen soos jy gesê het; maar maak eers vir my 'n koekie daarvan en bring dit vir my en maak daarna vir jou en vir jou seun. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die vat sal nie opraak nie, en die oliekruis sal nie opraak nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee. En sy het gegaan en gedoen volgens die woord van Elía, en sy en hy en haar huis het baie dae geëet. En die meel in die vat het nie vergaan nie, en die olie in die kruik het nie opgehou nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

1 KONINGS 17:1-16 Die Boodskap (DB)

Toe het Elia, ’n profeet uit Tisbe in Gilead, vir koning Agab gesê: “So seker as wat die Here, die God van Israel wat ek dien, leef, so seker sal daar geen dou of reën in die volgende jaar of wat val sonder dat ek so sê nie.” Die Here het vir Elia gesê: “Gaan weg van hierdie plek af en loop ooswaarts totdat jy by die Kritspruit, oos van die Jordaan, kom en kruip dan daar vir ’n ruk weg. Jy kan uit die spruit water drink, terwyl die kraaie elke dag vir jou op my bevel kos sal bring.” Elia het na die Here geluister en na die Kritspruit aan die Oos-Jordaan gestap. Elke oggend en elke aand het die kraaie vir hom brood en vleis gebring. Elia het die water van die spruit gedrink. Na ’n ruk het die spruit opgedroog, want dit het nog nie gereën nie. Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan na Sarfat toe, naby Sidon. Bly ’n rukkie daar. In Sarfat sal ’n weduwee elke dag vir jou sorg.” Elia is toe na Sarfat toe. Net toe hy die stad binnekom, sien hy ’n weduwee wat hout kap. Hy het haar nader geroep en gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water.” Terwyl sy wegstap, het Elia bygevoeg: “En sommer ook ’n stukkie brood, asseblief.” Maar die vrou het geantwoord: “Meneer, ek sweer voor God dat ek niks brood het nie. Daar is nog net ’n bietjie meel in die blik en ’n paar druppels olie in die kan. Ek het hierheen gekom om ’n paar stukkies hout vir ’n vuurtjie te kap sodat ek vir my en my seun ’n laaste stukkie brood kan maak. As dit klaar is, is daar niks meer nie. Dan moet ons maar op die dood wag.” “Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê. “Gaan bak maar die brood en as dit klaar is, bring eers vir my ’n klein stukkie. Jy en jou seun kan dan die res kry. Moenie bang wees nie, want die Here het vir my gesê dat jou meelblik en jou oliekan nie sal leeg word nie totdat Hy weer reën gestuur het.” Die weduwee het gedoen soos Elia gesê het. Daar was elke dag oorgenoeg kos vir hulle al drie. Soos die Here belowe het, was die meelblik nooit leeg nie en was daar altyd olie in die kan.

1 KONINGS 17:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elia die Tisbiet het hom tydelik in Gilead gevestig. Hy het vir Agab gesê: “So seker as wat die HERE die God van Israel leef, die God wat ek dien, in die volgende aantal jare sal daar geen dou of reën val nie behalwe wanneer ek so sê.” Toe sê die HERE vir Elia: “Gaan ooswaarts van hier en kruip weg by die Kritspruit, net anderkant die Jordaanrivier. Jy kan uit die spruit water drink en Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring.” Elia het gemaak soos die HERE hom beveel het en by Kritspruit anderkant die Jordaanrivier gaan wegkruip. Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. Na ’n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar het geen reën in die opvanggebied geval nie. Toe sê die HERE vir Elia: “Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ’n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Elia het na Sarfat toe gegaan. By die poort van die dorp aangekom, sien hy ’n weduwee wat hout bymekaarmaak. Hy vra haar: “Bring tog asseblief vir my ’n bietjie water om te drink!” Terwyl sy wegloop om dit te gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring tog ook vir my ’n stukkie brood!” Maar sy antwoord hom: “Ek verseker jou voor die HERE jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.” Elia sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie! Gaan aan en doen soos jy sê, maar bak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun sorg. So sê die HERE die God van Israel: ‘Die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die erdekan sal nie minder word nie totdat die HERE weer oor die land laat reën het.’” Sy het gedoen soos Elia gesê het. Voortaan het hulle al drie elke dag genoeg gehad om te eet. Die kruik was altyd vol meel en die olie in die erdekan het nie opgeraak nie. Dit was net soos die HERE deur Elia beloof het.