1 KONINGS 14:1-31

1 KONINGS 14:1-31 Die Boodskap (DB)

In dié tyd het Jerobeam se seun Abia baie ernstig siek geword. Sy toestand het dag vir dag versleg. Hy het toe sy vrou geroep en vir haar gesê: “Vermom jou en sorg dat niemand jou herken nie. Gaan dan Silo toe, want die profeet Agija bly daar. Hy is die man wat destyds gesê het ek sal die koning van Israel word. Vat tien brode, koeke en ’n kruik met heuning vir die man saam. En vra hom wat ons seun makeer en of hy gesond sal word.” Jerobeam se vrou is Silo toe en het die man besoek. Hy was al baie oud en al amper blind. Die Here het egter vir Agija gesê dat Jerobeam se vrou op pad was en dat sy hom oor hulle siek kind kom sien. Hy het ook vir Agija gesê hoe hy Jerobeam se vrou moet antwoord. Toe die vrou uiteindelik in Silo aankom, het sy haar as iemand anders voorgedoen. Toe Agija haar by die deur hoor, het hy gesê: “Kom in. Ek weet wie jy is. Jy is Jerobeam se vrou. Waarom maak jy of jy iemand anders is? Ek het baie slegte nuus vir jou. Gaan vertel vir Jerobeam wat die Here vir hom sê: ‘Van almal het Ek jou gekies. Ek het jou koning van Israel gemaak. Ek het die grootste deel van Dawid se koninkryk gevat en vir jou gegee. Tog is jy nie ’n man soos Dawid nie. Hy het My liefgehad en my wil met oorgawe gedoen. Maar jy het erger dinge gedoen as enigiemand voor jou. Jy het die rug vir My gedraai. Daarom het jy My verneder deur beelde van ander gode te maak. Met jou en jou familie gaan daar iets verskrikliks gebeur. Alle mans, oud en jonk, sal uitgewis word. Ek sal Jerobeam se familie wegvee soos ’n mens gemors wegvee. Dié wat in die stad sterf, sal deur honde verskeur word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur die voëls opgevreet word. Alles sal gebeur omdat Ek dit sê.”’ Agija het toe vir Jerobeam se vrou gesê: “U moet onmiddellik huis toe gaan. Sodra u die stad binnegaan, sal u seun sterf. Almal sal hartseer wees en oor u seun rou. Die Here het net in hom iets goeds gevind, en daarom sal hy ook die enigste van Jerobeam se kinders wees wat ooit in ’n familiegraf begrawe sal word. “Die Here gaan iemand anders as koning aanstel en hy sal Jerobeam se koningskap beëindig. Die Here gaan Israel so slaan dat hulle sal bewe soos ’n riet in ’n waterstroom. Dan sal Hy Israel wegvat van hierdie goeie grond wat Hy lank gelede aan hulle voorvaders gegee het. Hy sal hulle na ’n ver land anderkant die Eufraatrivier wegvoer. Alles sal presies so gebeur omdat hulle die Here verneder het deur beelde van Asjera te maak. Omdat Jerobeam sy mense verkeerde dinge laat doen het, sal die Here die rug vir Israel draai.” Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Net toe sy by die paleis instap, het haar kind gesterf. Soos die Here deur Agija gesê het, het die volk hom begrawe en oor die seun gerou. Alles oor Jerobeam se regering en sy oorloë is opgeteken in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings. Jerobeam het 22 jaar regeer. Hy het gesterf en is by sy familie begrawe. Sy seun Nadab het hom opgevolg. Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

1 KONINGS 14:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In hierdie tyd het Jerobeam se seun Abia baie siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Vermom jouself sodat niemand jou as Jerobeam se vrou kan herken nie. Gaan dan na die profeet Agija in Silo, die man wat gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word. Vat vir hom tien brode, koeke en ’n kruik vol heuning saam. Hy sal vir jou sê wat met die seun sal gebeur.” Jerobeam se vrou het toe na Agija se huis in Silo gegaan. Teen hierdie tyd kon hy nie meer sien nie omdat die ouderdom sy oë ingehaal het. Maar die HERE het reeds vir Agija ingelig: “Jerobeam se vrou kom hiernatoe en sal haar voordoen as iemand anders. Sy sal navraag doen oor haar seun, want hy is baie siek. Antwoord haar soos Ek vir jou sê.” Toe Agija haar voetstappe by die deur hoor, roep hy: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Hoekom gee jy voor dat jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou. Gaan sê vir Jerobeam: ‘Dit is wat die HERE, die God van Israel sê: Ek het jou uit die gewone mense geneem en jou heerser van Israel gemaak. Ek het die koningskap afgeskeur van die Dawidshuis en dit vir jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat my bevele gehoorsaam het, My ten volle gedien het en volgens my eise gelewe het nie. Jy het meer kwaad gedoen as almal voor jou. Jy het ander gode gemaak en My met jou goue kalwers uitgetart. Omdat jy jou rug op My gedraai het, sal Ek rampe oor jou koningshuis laat kom. Ek sal elke man uit die nageslag van Jerobeam uitroei uit Israel, of dit slawe of vry mense is. Ek sal jou koningshuis verbrand soos ’n mens rommel verbrand totdat daar niks oor is nie. Die honde sal elkeen wat aan Jerobeam behoort en wat in die stad sterf, opvreet, en dié wat in die veld sterf, sal die roofvoëls verslind. Dit sal gebeur, want die HERE het dit gesê.’ “Jy kan nou maar huis toe gaan. Wanneer jy die stad binnekom, sal die kind sterf. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy is die enigste van die familie van Jerobeam wat begrawe sal word, want hierdie kind is die enigste een in die familie van Jerobeam in wie die HERE, die God van Israel, iets goeds gekry het. Die HERE sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die hele familie van Jerobeam sal uitwis. Dit sal binnekort, sonder versuim, gebeur! Dan sal die HERE Israel tref soos vloedwater ’n riet tref. Hy sal die mense van Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle verstrooi tot anderkant die Eufraatrivier, want hulle het die HERE uitgetart met pale wat aan Asjera gewy was. Hy sal Israel prysgee oor die sonde van Jerobeam, en omdat hy die hele Israel laat sondig het.” Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf. Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die HERE deur Agija die profeet gesê het. Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg. Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die HERE uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die HERE. Met hulle sondes het hulle die HERE meer getart as wat hulle voorouers gedoen het. Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig. Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die HERE ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval. Hy het die tempel van die HERE en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het. Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas. Elke keer wanneer die koning na die tempel van die HERE gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre. Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 14:1-31 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het Jerobeam se seun Abija siek geword. Jerobeam het vir sy vrou gesê: “Jy moet jou gesig toemaak sodat mense nie kan weet jy is my vrou nie en jy moet na die stad Silo gaan. Dit is waar die profeet Agija woon, die profeet wat gesê het dat ek die koning sal word van hierdie volk. Jy moet tien brode neem en koekies en 'n kruik heuning en jy moet na hom toe gaan. Hy sal vir jou sê wat met die kind sal gebeur.” Jerobeam se vrou het gedoen wat hy gesê het. Sy het gereedgemaak en na Silo gegaan en by die huis van Agija gekom. Agija was al baie oud, hy kon nie meer sien nie. Die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou het gekom om vir jou te vra wat sal gebeur met haar seun, want hy is siek. Jy moet vir haar sê wat Ek vir jou sê.” Die vrou se gesig was toe, maar toe Agija hoor sy kom by die deur in, sê hy: “Kom in, vrou van Jerobeam. Hoekom is jou gesig toe? Ek het 'n slegte boodskap vir jou. Jy moet vir Jerobeam gaan sê: Die Here, die God van Israel, sê: Ek het vir jóú gekies van al die mense en Ek het jóú laat regeer oor my volk Israel. Ek het die land weggevat van die koningshuis van Dawid en Ek het dit vir jou gegee. Maar jy is nie soos my dienaar Dawid nie. Hy het My gedien met sy hele hart en hy het dinge gedoen waarvan Ek hou. Maar jy het slegter dinge gedoen as almal wat vóór jou koning was. Jy het vir jou ander gode en beelde gemaak. So het jy vir My hartseer gemaak en weggegaan van My. Daarom sal Ek dit nou sleg laat gaan met die koningshuis van Jerobeam. Ek sal al die mans en die seuns in die koningshuis van Jerobeam laat sterf, slawe en ook mense wat vry is in Israel. Soos 'n mens beesmis verbrand totdat dit as is, so sal Ek doen met die koningshuis van Jerobeam. Wanneer iemand van die nageslag van Jerobeam in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet. En jy, Mevrou, staan op en gaan huis toe. Die kind sal sterf wanneer jy in die stad inkom. Die hele Israel sal oor hom rou en hulle sal hom begrawe. Hy is die enigste een van die nageslag van Jerobeam wat hulle in 'n graf sal begrawe, want die Here, die God van Israel, het gesien dat daar in die hele koningshuis van Jerobeam net in hierdie kind iets is wat goed is. Die Here sal self 'n koning laat kom wat almal in die koningshuis van Jerobeam sal doodmaak, en dit sal gou gebeur. Die Here sal op die mense van Israel afkom soos 'n watervloed wat riete laat bewe. Hy sal hulle weggooi uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorvaders gegee het en Hy sal hulle na al die kante toe jaag tot anderkant die Eufraat-rivier. Hy sal dit doen omdat hulle gewyde pale gemaak het en so die Here kwaad gemaak het. Die Here sal Israel los omdat Jerobeam hierdie sonde gedoen het en omdat hy die mense van Israel sonde laat doen het.” Jerobeam se vrou het opgestaan en sy het teruggegaan na die stad Tirsa. Toe sy by die deur van die paleis kom, het die kind gesterf. Die mense van Israel het hom begrawe en hulle het almal oor hom gerou. Die Here het voorheen gesê sy dienaar die profeet Agija moet sê dat dit so sal gebeur. Al die ander dinge wat Jerobeam gedoen het, hoe hy oorlog gemaak het en hoe hy regeer het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Jerobeam was 22 jaar lank koning. Hy het gesterf, en sy seun Nadab het koning geword ná hom. Rehabeam seun van Salomo was koning in die land Juda. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Die Here het Jerusalem gekies van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was Naäma, sy was 'n Ammonitiese vrou. Die mense van Juda het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het Hom baie kwaad gemaak omdat hulle daardie sondes gedoen het. Hulle het Hom meer kwaad gemaak as hulle voorvaders. Hulle het ook vir hulle offer-plekke gebou en klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Daar was ook tempel-prostitute in die land. Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen, dinge wat die Here haat. Hulle het dieselfde dinge gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete. In die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het, het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Hy het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het. Koning Rehabeam het skilde van brons laat maak in die goue skilde se plek, en hy het die skilde vir die hoofde van die wagte gegee wat voor die paleis waggestaan het. Elke maal wanneer die koning na die tempel gegaan het, dan het die wagte die skilde gedra. Daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer. Al die ander dinge wat Rehabeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het gesterf en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, sy was 'n Ammonitiese vrou. Rehabeam se seun Abia het koning geword ná hom.

1 KONINGS 14:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN dieselfde tyd het Abía, die seun van Jeróbeam, siek geword. En Jeróbeam het vir sy vrou gesê: Maak jou tog gereed en trek ander klere aan, sodat hulle nie kan merk dat jy die vrou van Jeróbeam is nie, en gaan na Silo; kyk, daar is die profeet Ahía wat van my gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word. En neem met jou saam tien brode en koeke en 'n kruik met heuning, en gaan na hom toe; hy sal jou te kenne gee wat met die seun sal gebeur. En die vrou van Jeróbeam het so gedoen — haar gereedgemaak en na Silo gegaan en in die huis van Ahía gekom; en Ahía kon nie sien nie, want sy oë was styf vanweë sy ouderdom. Maar die HERE het vir Ahía gesê: Kyk, die vrou van Jeróbeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek; so en so moet jy vir haar sê. En toe sy inkom, terwyl sy haar as 'n vreemde aanstel, en Ahía die geluid van haar voete hoor toe sy by die deur inkom, sê hy: Kom in, vrou van Jeróbeam! Waarom stel jy jou so vreemd aan? Aan my is 'n harde boodskap aan jou toevertrou. Gaan sê vir Jeróbeam: So spreek die HERE, die God van Israel: Omdat Ek jou onder die volk uit verhef het en jou as 'n vors oor my volk Israel aangestel het en die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit aan jou gegee het, maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou en My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie, maar jy meer kwaad gedoen het as al jou voorgangers en vir jou ander gode en gegote beelde gaan maak het om My te terg en My agter jou rug gewerp het — kyk, daarom bring Ek onheil oor die huis van Jeróbeam en sal van Jeróbeam uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering; en Ek sal die huis van Jeróbeam skoon wegvee soos 'n mens drek wegvee totdat daar niks van oor is nie. Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek. Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe. En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in 'n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam. Maar die HERE sal vir Hom 'n koning oor Israel verwek wat die huis van Jeróbeam dié dag sal uitroei; ja, wat sê ek? Nou al. En die HERE sal Israel slaan, soos 'n riet in die water heen en weer beweeg, en sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het, en hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hul heilige boomstamme gemaak en die HERE geterg het. En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het. Toe het die vrou van Jeróbeam haar klaargemaak en weggegaan en in Tirsa aangekom. Net toe sy op die drumpel van die huis kom, het die seun gesterwe. En hulle het hom begrawe, en die hele Israel het hom beklaag volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg, die profeet Ahía. En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel. En die dae wat Jeróbeam geregeer het, was twee-en-twintig jaar; en hy het ontslaap met sy vaders, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword. EN Rehábeam, die seun van Salomo, was koning in Juda; een-en-veertig jaar was Rehábeam oud toe hy koning geword het, en sewentien jaar het hy geregeer in Jerusalem, die stad wat die HERE verkies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese. En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en sy ywer opgewek, meer as al die dade van hulle vaders, deur hul sondes wat hulle gedoen het. En hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar was ook skandseuns in die land; hulle het gehandel volgens al die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. In die vyfde jaar van koning Rehábeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe teen Jerusalem op, en hy neem die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weg; ja, hy het alles weggeneem; ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, het hy weggeneem. Daarop maak koning Rehábeam in die plek daarvan koperskilde, en hy het dit aan die owerstes van die hardlopers toevertrou wat die deur van die koning se huis bewaak het. So dikwels as die koning in die huis van die HERE ingaan, dra die hardlopers dit en bring dit weer terug in die wagkamer van die hardlopers. En die verdere geskiedenis van Rehábeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En daar was gedurigdeur oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam. En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese; en sy seun Abía het in sy plek koning geword.

1 KONINGS 14:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

In dié tyd het Abia, 'n seun van Jerobeam, siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Gaan vermom jou sodat die mense jou nie herken as Jerobeam se vrou nie. Gaan dan na Silo toe waar die profeet Agija is. Dit is hy wat gesê het dat ek koning sal word oor hierdie volk. Vat tien brode en koeke en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal vir jou sê wat met die kind gaan gebeur.” Jerobeam se vrou het so gemaak. Sy het na Silo toe gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie meer sien nie, hy was al blind van ouderdom. Maar die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou kom jou raadpleeg oor haar seun wat siek is. Sê vir haar wat Ek vir jou sê.” Toe sy inkom, wou sy nog maak asof sy iemand anders is, maar net toe Agija haar voetstappe hoor terwyl sy by die deur inkom, sê hy: “Kom binne, jy is die vrou van Jerobeam! Waarom maak jy asof jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou. Gaan sê vir Jerobeam: ‘So sê die Here die God van Israel: Ek het jou 'n vername man gemaak onder die mense en jou as heerser aangestel oor my volk Israel. Toe Ek die koningskap afgeskeur het van die huis van Dawid af, het Ek dit aan jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat hom aan my opdragte gehou het en wat sy hele lewe aan My toegewy het deur net te doen wat reg is in my oë nie. Jy het slegter opgetree as almal voor jou. Jy het vir jou ander gode gemaak, afgodsbeelde, om My uit te tart, en jy het jou rug vir My gedraai. Om dié rede bring Ek ellende oor die huis van Jerobeam. Ek sal al wat manlik is uit die nageslag van Jerobeam, wie ook al, uit Israel uitroei. Ek gaan heeltemal ontslae raak van die huis van Jerobeam, soos 'n mens van vuilgoed ontslae raak. Die een van Jerobeam wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en die een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet. Dit sal gebeur omdat die Here dit gesê het.’ “Gaan jy nou maar huis toe. Sodra jy in die stad inkom, sal die kind sterf. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy sal ook die enigste van die familie van Jerobeam wees wat in 'n graf kom, want in die huis van Jerobeam het die Here die God van Israel net in hom iets goeds gevind. “Die Here sal self 'n koning oor Israel aanstel wat die geslag van Jerobeam dadelik, sonder versuim, sal uitroei. So sal die Here Israel tref soos vloedwater riet tref. Die Here sal Israel uitdryf uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle voorvaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi omdat hulle gewyde pale gemaak het en die Here daarmee uitgetart het. Hy sal hulle prysgee oor die sonde wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het.” Toe het Jerobeam se vrou teruggegaan Tirsa toe. Net toe sy oor die drumpel van die paleis stap, het die kind gesterf. Hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou. Dit was in ooreenstemming met wat die Here gesê het deur sy dienaar die profeet Agija. Die ander verhale oor Jerobeam, oor sy oorloë en sy regering, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Die duur van Jerobeam se koningskap was twee en twintig jaar. Hy is oorlede, en sy seun Nadab het hom as koning opgevolg. Rehabeam seun van Salomo was intussen koning van Juda. Rehabeam was een en veertig toe hy koning geword het en hy was sewentien jaar koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het. Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek. Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het. Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het. Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe. Die ander verhale oor Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 14:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie tyd het Abia, seun van Jerobeam, siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Maak asseblief gereed; vermom jouself, sodat hulle nie weet dat jy die vrou van Jerobeam is nie, en gaan dan na Silo. Kyk, dit is waar die profeet Agija is. Dit is hy wat oor my voorspel het dat ek koning sal word oor hierdie volk. Neem tien brode, gebak en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal aan jou bekend maak wat met die seun gaan gebeur.” Die vrou van Jerobeam het toe so gemaak. Sy het gereedgemaak, na Silo gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie sien nie, want sy oë was al star vanweë sy ouderdom. Die HERE het egter vooraf vir Agija gesê: “Kyk, die vrou van Jerobeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek. Dit en dit moet jy vir haar sê. Wanneer sy inkom, sal sy haar as 'n vreemdeling voordoen.” Net toe Agija die geluid van haar voetstappe hoor, terwyl sy by die ingang inkom, sê hy vir haar: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Nou hoekom doen jy jou as 'n vreemdeling voor? Ek word na jou gestuur met 'n harde woord. Gaan sê vir Jerobeam, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Omdat Ek jou verhef het uit die volk se midde en jou as leier oor my volk Israel aangestel het, en Ek die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit vir jou gegee het, maar jy nie was soos my dienskneg Dawid nie, hy wat my gebooie nagekom het en My gevolg het met sy hele hart deur slegs te doen wat reg is in my oë, ja, omdat jy meer kwaad gedoen het as almal wat voor jou was, en jy gegaan en vir jou ander gode gemaak het, gegote beelde, om My uit te tart, en omdat jy My verwerp het, daarom: Kyk, Ek gaan onheil bring oor die huis van Jerobeam. Ek sal van Jerobeam die mansmense in Israel uitroei, sowel hulle wat gevange is as hulle wat vrygelaat is. Ek sal die koningshuis van Jerobeam wegvee soos 'n mens drek wegvee, totdat hy heeltemal vernietig is. As iemand van Jerobeam in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van Jerobeam in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.” ’ Ja, die HERE self het dit gesê. En jy, staan op en gaan na jou huis toe! Wanneer jou voete die stad betree, sal die kind sterf. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want van dié wat aan Jerobeam behoort, sal net hy in 'n graf kom, omdat daar, uit die huis van Jerobeam, in hom iets goeds gevind is deur die HERE, die God van Israel. Die HERE gaan vir Hom 'n koning laat opstaan oor Israel wat die huis van Jerobeam sal uitroei; dit is nou die tyd daarvoor. Maar wat is daar nou nog meer? Die HERE gaan Israel tref; hulle sal wees soos 'n riet wat in die water heen en weer swaai. Hy gaan Israel wegruk van hierdie goeie grond af wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle anderkant die Rivier verstrooi, omdat hulle asjeras gemaak het en die HERE gedurig uitgetart het. Hy gaan Israel prysgee oor die sondes van Jerobeam, die sondes wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.” Jerobeam se vrou het opgestaan, sy het vertrek en by Tirsa aangekom. Toe sy oor die drumpel van die paleis trap, het die seun gesterf. Die hele Israel het hom begrawe en oor hom gerou, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg, die profeet Agija. Die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en regeer het – kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. Die tydperk wat Jerobeam koning was, was twee-en-twintig jaar. Hy het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword. Rehabeam, seun van Salomo, was koning in Juda. Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die HERE gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hulle het Hom nog meer ontstel met die sondes wat hulle gedoen het as alles wat hulle voorouers gedoen het. Ook hulle het vir hulleself offerhoogtes, gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die mense het al die afstootlike dade van die nasies wat die HERE voor die Israeliete uit verdryf het, nagedoen. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe op teen Jerusalem. Hy het die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. Telkens wanneer die koning die huis van die HERE binnegegaan het, het die hardlopers dit gedra en dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers. Die verdere geskiedenis van Rehabeam, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid. Sy moeder se naam was Naäma, die Ammoniet. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

1 KONINGS 14:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In dié tyd het Abía, die seun van Jeróbeam, siek geword. Toe sê toe Jeróbeam vir sy vrou: Staan tog op en maak jou vermom, sodat jy nie weet dat jy die vrou van Jeróbeam is nie; en gaan na Silo toe; kyk, daar is die profeet Ahía wat vir my gesê het dat ek koning moet word oor hierdie volk. En neem saam met jou tien brode en koeke en 'n kruik heuning, en gaan na hom toe; hy sal jou vertel wat van die kindjie sal word. En die vrou van Jeróbeam het so gedoen en opgestaan en na Silo gegaan en by die huis van Ahía gekom. Maar Ahia kon nie sien nie; want sy oë was gespanne vanweë sy ouderdom. Toe sê die HERE vir Ahía: Kyk, die vrou van Jeróbeam kom om iets van jou vir haar seun te vra; want hy is siek; so en so moet jy vir haar sê: want as sy inkom, sal sy voorgee dat sy 'n ander vrou is. En toe Ahía die geluid van haar voete hoor toe sy by die deur ingaan, sê hy: Kom in, vrou van Jeróbeam! waarom gee jy jouself voor om 'n ander te wees? want ek is na jou gestuur met swaar tyding. Gaan sê vir Jerobeam: So spreek die HERE, die God van Israel: Omdat Ek jou uit die volk verhef en jou as vors oor my volk Israel aangestel het, En skeur die koninkryk van die huis van Dawid af en gee dit aan jou; en tog was jy nie soos my kneg Dawid nie, wat my gebooie onderhou het en wat My gevolg het met sy hele hart om net te doen wat reg is in my oë; Maar jy het meer kwaad gedoen as alles wat voor jou was, want jy het gegaan en vir jou ander gode en gegote beelde gemaak om my te terg, en het my agter jou rug gewerp. Daarom, kyk, Ek bring onheil oor die huis van Jeróbeam, en Ek sal uit Jeróbeam uitroei hom wat teen die muur ploeter, en hom wat opgesluit en oorgebly het in Israel, en die oorblyfsel van die huis van Jeróbeam wegneem, soos 'n mens mis wegneem totdat dit alles weg is. Wie van Jeróbeam in die stad sterwe, sal die honde eet; en hom wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek. Staan dan op, gaan na jou eie huis; en as jou voete in die stad ingaan, sal die kind sterwe. En die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in die graf kom, omdat daar in hom iets goeds gevind is aan die HERE, die God van Israel, in die huis van Jeróbeam. Verder sal die HERE vir hom 'n koning oor Israel verwek, wat die huis van Jeróbeam daardie dag sal uitroei; maar wat? selfs nou. Want die HERE sal Israel slaan soos 'n riet in die water geskud word, en Hy sal Israel uitroei uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hulle heilige boomstamme gemaak het, wat die HERE terg. En hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam, wat gesondig het en wat Israel laat sondig het. En die vrou van Jeróbeam het opgestaan en weggegaan en in Tirsa aangekom; en toe sy by die drumpel van die deur kom, het die kind gesterwe; En hulle het hom begrawe; en die hele Israel het oor hom getreur volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die hand van sy kneg, die profeet Ahía. En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer het en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel. En die dae wat Jeróbeam geregeer het, was twee en twintig jaar; en hy het ontslaap met sy vaders, en sy seun Nadab het in sy plek geregeer. En Rehábeam, die seun van Salomo, het in Juda geregeer. Rehabeam was een en veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar geregeer in Jerusalem, die stad wat die HERE uit al die stamme van Israel uitgekies het om sy Naam daar te vestig. En die naam van sy moeder was Naäma, 'n Ammonitiese. En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het Hom tot ywer gewek deur hulle sondes wat hulle gedoen het, bo alles wat hulle vaders gedoen het. Want hulle het ook vir hulle hoogtes en beelde en heilige boomstamme gebou op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar was ook sodomiete in die land, en hulle het gehandel volgens al die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdryf het. En in die vyfde jaar van koning Rehábeam het Sisak, die koning van Egipte, teen Jerusalem opgetrek. En hy het die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het selfs alles weggeneem, en hy het al die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem. En koning Rehábeam het in hulle plek koperskilde gemaak en dit in die hand van die owerste van die lyfwag, wat die deur van die koning se huis bewaak het, oorgegee. En toe die koning in die huis van die HERE ingegaan het, het die wag hulle gedra en hulle teruggebring in die wagkamer. En die verdere geskiedenis van Rehábeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En daar was oorlog tussen Rehabeam en Jeróbeam al hulle dae. En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid. En die naam van sy moeder was Naäma en die Ammoniete. En sy seun Abía het in sy plek geregeer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid