1 JOHANNES 5:1-8
1 JOHANNES 5:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig : die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen.
1 JOHANNES 5:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Almal wat glo dat Jesus die Christus is, is kinders van God, en almal wat lief is vir God die Vader, is ook lief vir God se ander kinders. Ons weet dat ons lief is vir die kinders van God wanneer ons lief is vir God en ons doen wat Hy vir ons sê. Ja, ons is lief vir God as ons doen wat Hy vir ons sê. En dit is maklik om te doen wat God vir ons sê, want elke kind van God oorwin die wêreld. Ons oorwin die wêreld wanneer ons in Jesus glo. Ja, as ons glo dat Jesus die Seun van God is, dan oorwin ons die wêreld. Ons weet dat Jesus Christus die Seun van God is, want Hy is gedoop en Hy het vir ons sonde gesterf. Ja, Hy is nie net gedoop nie, Hy het ook vir ons sonde gesterf. Ons weet dit omdat die Heilige Gees dit vir ons gesê het, die Gees wat altyd die waarheid praat. Daarom is daar drie wat sê dit is die waarheid: die Heilige Gees, Jesus se doop en Jesus se dood. Al drie sê dieselfde oor Jesus.
1 JOHANNES 5:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
ELKEEN wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.
1 JOHANNES 5:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie 'n swaar las nie; want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die •Seun van God is? Hy, Jesus •Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het – nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens.
1 JOHANNES 5:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die vader liefhet, het ook hom lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet, wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar, en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld, en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin, naamlik ons geloof. Wie is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus Christus; nie net deur water nie, maar deur water en bloed. En dit is die Gees wat getuig, want die Gees is waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel, die Vader, die Woord en die Heilige Gees; en hierdie drie is een. En daar is drie wat op die aarde getuig: die Gees en die water en die bloed; en hierdie drie stem ooreen.
1 JOHANNES 5:1-8 Die Boodskap (DB)
Elkeen wat geen twyfel daaroor het dat Jesus die Messias is nie, kan weet dat God hom sy kind gemaak het. Elkeen wat God wat mense sy kinders maak, liefhet, het ook almal lief wat sy kinders is. Wie dus die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef. Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God. Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. Daar is drie wat getuienis aflê: eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde.
1 JOHANNES 5:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief. Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer. Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie, want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof. Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is? Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is. Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.