1 JOHANNES 4:8-16
1 JOHANNES 4:8-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 JOHANNES 4:8-16 Die Boodskap (DB)
God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word. Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk. Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom. God het ons lief. Ons weet en glo dit. God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef.
1 JOHANNES 4:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is. Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê. Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom. Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het. Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom. Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God. Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.
1 JOHANNES 4:8-16 Bybel vir almal (ABA)
Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het. Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee. Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die Redder van die wêreld kon word. As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God. Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle.
1 JOHANNES 4:8-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
1 JOHANNES 4:8-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.
1 JOHANNES 4:8-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun gestuur het om die Verlosser van die wêreld te wees. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, geken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom.