1 JOHANNES 4:7-21
1 JOHANNES 4:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.
1 JOHANNES 4:7-21 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God. Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het. Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee. Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die Redder van die wêreld kon word. As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God. Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle. Ons harte het vol geword van God se liefde, en daarom is ons nou nie bang vir die oordeelsdag nie. Ons is nog in die wêreld, maar ons is nie bang om by God te wees nie, soos Jesus nie bang is om by God te wees nie. Mense wat liefde in hulle harte het, is nie bang nie, want as hulle regtig liefde in hulle harte het, dan kan hulle nie meer bang wees nie. Mense is altyd bang vir straf. Die mense wat bang is dat God hulle sal straf, is die mense wat nie regtig liefde in hulle harte het nie. Ons is lief vir God en vir mekaar, want God was eerste lief vir ons. Wanneer mense sê hulle is lief vir God, maar hulle haat ander gelowiges, dan lieg hulle. Hulle kan die ander gelowiges sien, maar is nie lief vir hulle nie. Kan hulle dan lief wees vir God, God vir wie hulle nie sien nie? Nee. God het vir ons gesê as ons lief is vir Hom, dan moet ons ook lief wees vir die ander gelowiges.
1 JOHANNES 4:7-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.
1 JOHANNES 4:7-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons tot vervulling gekom. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly, en Hy in ons: Hy het ons aan sy Gees laat deel kry. En ons het dit aanskou, en ons getuig daarvan, dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Wie ook al bely dat Jesus die •Seun van God is, God bly in hom, en hy in God. Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom. Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.
1 JOHANNES 4:7-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want liefde is uit God; en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het. En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun gestuur het om die Verlosser van die wêreld te wees. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, geken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom. Hierin is ons liefde volbring, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag, want soos Hy is, so is ons in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in liefde nie; maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees het pyniging. Hy wat vrees, word nie in liefde volmaak nie. Ons het hom lief, omdat hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van hom, dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.
1 JOHANNES 4:7-21 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word. Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk. Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom. God het ons lief. Ons weet en glo dit. God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef. So bereik die liefdevolle God sy doel met ons: ons kan die oordeelsdag met vrymoedigheid, sonder om bang te wees, tegemoetstap. In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n. Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie, veral nie vrees vir God se finale oordeel nie. Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees. Iemand wat dus nog sulke vrees in hom ronddra, se lewe is nog nie heeltemal deurdrenk met God se liefde nie. En hoekom nie? Want vrees is net heeltyd bekommerd oor die straf wat kan kom. God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie. As iemand vertel dat hy God liefhet, maar liefdeloos teenoor ’n medegelowige optree, is hy ’n regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy nie eens sien nie? Wie God liefhet, het geen ander keuse as om ook sy medegelowige lief te hê nie. Dit is die opdrag wat Hy vir ons gegee het.
1 JOHANNES 4:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik. Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is. Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang. Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem. Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê. Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom. Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het. Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom. Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God. Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees. Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie. Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie. Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.