1 JOHANNES 4:17-20
1 JOHANNES 4:17-20 Bybel vir almal (ABA)
Ons harte het vol geword van God se liefde, en daarom is ons nou nie bang vir die oordeelsdag nie. Ons is nog in die wêreld, maar ons is nie bang om by God te wees nie, soos Jesus nie bang is om by God te wees nie. Mense wat liefde in hulle harte het, is nie bang nie, want as hulle regtig liefde in hulle harte het, dan kan hulle nie meer bang wees nie. Mense is altyd bang vir straf. Die mense wat bang is dat God hulle sal straf, is die mense wat nie regtig liefde in hulle harte het nie. Ons is lief vir God en vir mekaar, want God was eerste lief vir ons. Wanneer mense sê hulle is lief vir God, maar hulle haat ander gelowiges, dan lieg hulle. Hulle kan die ander gelowiges sien, maar is nie lief vir hulle nie. Kan hulle dan lief wees vir God, God vir wie hulle nie sien nie? Nee.
1 JOHANNES 4:17-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
1 JOHANNES 4:17-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.
1 JOHANNES 4:17-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy 'n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie.
1 JOHANNES 4:17-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierin is ons liefde volbring, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag, want soos Hy is, so is ons in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in liefde nie; maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees het pyniging. Hy wat vrees, word nie in liefde volmaak nie. Ons het hom lief, omdat hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê: Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
1 JOHANNES 4:17-20 Die Boodskap (DB)
So bereik die liefdevolle God sy doel met ons: ons kan die oordeelsdag met vrymoedigheid, sonder om bang te wees, tegemoetstap. In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n. Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie, veral nie vrees vir God se finale oordeel nie. Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees. Iemand wat dus nog sulke vrees in hom ronddra, se lewe is nog nie heeltemal deurdrenk met God se liefde nie. En hoekom nie? Want vrees is net heeltyd bekommerd oor die straf wat kan kom. God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie. As iemand vertel dat hy God liefhet, maar liefdeloos teenoor ’n medegelowige optree, is hy ’n regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy nie eens sien nie?
1 JOHANNES 4:17-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees. Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie. Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.