1 JOHANNES 2:5-10
1 JOHANNES 2:5-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar as mense doen wat God vir hulle sê, dan kan 'n mens sien dat hulle regtig baie lief is vir God. As ons só lewe, dan weet ons dat ons by God is. As mense sê hulle is by God, dan moet hulle lewe soos Jesus gelewe het. Liewe vriende, ek gee nie vir julle 'n nuwe wet nie. Dit is 'n ou wet wat julle van die begin af het, 'n wet wat ons by Jesus gehoor het. Maar 'n mens kan ook sê dit is 'n nuwe wet wat ek vir julle gee, want wat Jesus gedoen het en wat julle doen, maak die wet nuut en waar. Die donker gaan verby en die ware lig skyn nou. As mense sê dat hulle in die lig van God lewe, maar hulle haat ander gelowiges, dan lewe daardie mense nog altyd in die donker. As mense lief is vir ander gelowiges, dan bly hulle in die lig. Daar is niks wat hulle verkeerde dinge laat doen nie.
1 JOHANNES 2:5-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het. Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. En tog skryf ek aan julle 'n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie.
1 JOHANNES 2:5-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het. Tog is dit ook 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds. As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.
1 JOHANNES 2:5-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod waaroor ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod, wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle gehoor het. Tog is dit 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskryf, wat in Hom en in julle 'n werklikheid is, omdat die duisternis besig is om verby te gaan, en die ware lig reeds skyn. Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.
1 JOHANNES 2:5-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword; hieraan weet ons dat ons in hom is. Hy wat sê dat hy in hom bly, behoort self ook so te wandel soos hy gewandel het. Broeders, ek skryf geen nuwe gebod aan julle nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. Ek skryf weer 'n nuwe gebod aan julle wat waar is in Hom en in julle, omdat die duisternis verby is en die ware lig nou skyn. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broer haat, is tot nou toe in die duisternis. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en daar is geen aanleiding tot struikeling in hom nie.
1 JOHANNES 2:5-10 Die Boodskap (DB)
Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê. Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly. My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al. Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges. Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn. Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só
1 JOHANNES 2:5-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is. Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het. Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het. Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds. As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis. Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.