1 JOHANNES 2:3-11
1 JOHANNES 2:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam. As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie. Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is. Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het. Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het. Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds. As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis. Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie. Wie egter ’n medegelowige haat, is nog in die duisternis en leef in ’n noue verbintenis met die duisternis. Sulke persone besef nie waarheen hulle op pad is nie omdat die duisternis hulle oë verblind het.
1 JOHANNES 2:3-11 Bybel vir almal (ABA)
As ons doen wat God se wette vir ons sê, dan weet ons dat ons Hom ken. As mense sê hulle ken God, maar hulle doen nie wat Hy sê hulle moet doen nie, dan lieg hulle en hulle aanvaar nie die waarheid nie. Maar as mense doen wat God vir hulle sê, dan kan 'n mens sien dat hulle regtig baie lief is vir God. As ons só lewe, dan weet ons dat ons by God is. As mense sê hulle is by God, dan moet hulle lewe soos Jesus gelewe het. Liewe vriende, ek gee nie vir julle 'n nuwe wet nie. Dit is 'n ou wet wat julle van die begin af het, 'n wet wat ons by Jesus gehoor het. Maar 'n mens kan ook sê dit is 'n nuwe wet wat ek vir julle gee, want wat Jesus gedoen het en wat julle doen, maak die wet nuut en waar. Die donker gaan verby en die ware lig skyn nou. As mense sê dat hulle in die lig van God lewe, maar hulle haat ander gelowiges, dan lewe daardie mense nog altyd in die donker. As mense lief is vir ander gelowiges, dan bly hulle in die lig. Daar is niks wat hulle verkeerde dinge laat doen nie. As mense ander gelowiges haat, dan lewe hulle in die donker. Hulle is soos mense wat in die donker loop en nie weet waarnatoe hulle gaan nie, want die donker maak hulle blind.
1 JOHANNES 2:3-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom — en sy gebooie nie bewaar nie — is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het. Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. En tog skryf ek aan julle 'n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.
1 JOHANNES 2:3-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het. Tog is dit ook 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds. As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het.
1 JOHANNES 2:3-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En dit is hoe ons weet dat ons Hom ken: As ons sy gebooie onderhou. Iemand wat sê, “Ek ken Hom,” maar sy gebooie nie onderhou nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod waaroor ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod, wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle gehoor het. Tog is dit 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskryf, wat in Hom en in julle 'n werklikheid is, omdat die duisternis besig is om verby te gaan, en die ware lig reeds skyn. Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis, en wandel in die duisternis, en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë blind gemaak het.
1 JOHANNES 2:3-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken hom en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword; hieraan weet ons dat ons in hom is. Hy wat sê dat hy in hom bly, behoort self ook so te wandel soos hy gewandel het. Broeders, ek skryf geen nuwe gebod aan julle nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. Ek skryf weer 'n nuwe gebod aan julle wat waar is in Hom en in julle, omdat die duisternis verby is en die ware lig nou skyn. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broer haat, is tot nou toe in die duisternis. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en daar is geen aanleiding tot struikeling in hom nie. Maar hy wat sy broer haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, want daardie duisternis het sy oë verblind.
1 JOHANNES 2:3-11 Die Boodskap (DB)
Maar ons kan ons afvra: Hoe kan ons seker weet dat ons Hom so goed ken dat Hy dit alles vir ons sal doen? Wel, as ons graag doen wat Hy van ons vra, kan ons seker wees. Daarteenoor is iemand wat beweer: “Ek ken Hom baie goed,” maar nie doen wat Jesus vra nie, natuurlik ’n leuenaar. So iemand kan nie eens “waarheid” spel nie. Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê. Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly. My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al. Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges. Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn. Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só: die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.