1 JOHANNES 2:18-23
1 JOHANNES 2:18-23 Die Boodskap (DB)
My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom. Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense. Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is. As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie. Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris! Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan.
1 JOHANNES 2:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie. Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees. Ek het aan julle geskryf, nie omdat julle nie kennis dra van die waarheid nie, maar juis omdat julle die waarheid ken en ook weet dat geen leuen uit die waarheid kan kom nie. Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So ’n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie. Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader.
1 JOHANNES 2:18-23 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, die einde van die wêreld is naby. Julle het gehoor dat die antichris kom. Daar is nou baie antichriste, en daarom weet ons dat die einde van die wêreld naby is. Die antichriste was eers by ons, maar hulle het nooit saam met ons geglo nie. As hulle saam met ons geglo het, dan sou hulle by ons gebly het. Maar nou is hulle weg en almal kan sien dat hulle nie saam met ons geglo het nie. Maar julle is anders. Jesus, wat self heilig is, het julle met die Heilige Gees gesalf, en julle almal weet genoeg. Ek skryf nie hierdie brief vir julle omdat julle nie die waarheid ken nie. Julle ken die waarheid, en julle weet dat iets wat nou die waarheid is, nie later 'n leuen sal wees nie. Weet julle wie is die mense wat nie die waarheid praat nie? Dit is die mense wat nie wil aanvaar dat Jesus die Christus is nie. Hulle is die antichriste. Hulle aanvaar nie die Vader nie en hulle aanvaar ook nie die Seun nie. Almal wat nie die Seun aanvaar nie, behoort nie aan die Vader nie, maar almal wat in die Seun glo en wat dit sê, behoort aan die Vader.
1 JOHANNES 2:18-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KINDERS, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen uit die waarheid is nie. Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.
1 JOHANNES 2:18-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie. Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom nie. Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader.
1 JOHANNES 2:18-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie. Maar julle is deur die Heilige gesalf, en julle almal weet dit. Ek skryf nie aan julle, omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken, en omdat daar geen leuen uit die waarheid kom nie. Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die •Christus is? Hy is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken. Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader.
1 JOHANNES 2:18-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kinders, dit is die laaste keer; en soos julle gehoor het dat die Antichris sal kom, is daar ook nou baie antichriste; waardeur ons weet dat dit die laaste keer is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle ongetwyfeld by ons gebly het; maar hulle het uitgegaan om aan die lig te kom dat hulle nie almal van ons was nie. Maar julle het 'n salwing van die Heilige, en julle weet alles. Ek het nie aan julle geskryf omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken, en dat geen leuen uit die waarheid is nie. Wie is 'n leuenaar behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hy is die Antichris, wat die Vader en die Seun verloën. Elkeen wat die Seun verloën, hy het nie die Vader nie; (maar) wie die Seun erken, het ook die Vader.