1 JOHANNES 2:15-20
1 JOHANNES 2:15-20 Bybel vir almal (ABA)
Julle moenie lief wees vir hierdie sondige wêreld en vir die dinge van die wêreld nie. As julle lief is vir die wêreld, dan is julle nie lief vir die Vader nie. Die mense van die wêreld doen graag slegte dinge, hulle wil alles hê wat hulle sien, hulle is hoogmoedig oor wat hulle doen. Dit alles kom van die wêreld, dit kom nie van die Vader nie. Die wêreld en die dinge wat die mense van die wêreld graag doen, sal verdwyn, maar almal wat doen wat God wil hê, sal altyd lewe. Vriende, die einde van die wêreld is naby. Julle het gehoor dat die antichris kom. Daar is nou baie antichriste, en daarom weet ons dat die einde van die wêreld naby is. Die antichriste was eers by ons, maar hulle het nooit saam met ons geglo nie. As hulle saam met ons geglo het, dan sou hulle by ons gebly het. Maar nou is hulle weg en almal kan sien dat hulle nie saam met ons geglo het nie. Maar julle is anders. Jesus, wat self heilig is, het julle met die Heilige Gees gesalf, en julle almal weet genoeg.
1 JOHANNES 2:15-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. KINDERS, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.
1 JOHANNES 2:15-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe. Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie. Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid.
1 JOHANNES 2:15-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid. Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie. Maar julle is deur die Heilige gesalf, en julle almal weet dit.
1 JOHANNES 2:15-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie die wêreld liefhê nie, ook nie die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is, die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die trots van die lewe, is nie van die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. Kinders, dit is die laaste keer; en soos julle gehoor het dat die Antichris sal kom, is daar ook nou baie antichriste; waardeur ons weet dat dit die laaste keer is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle ongetwyfeld by ons gebly het; maar hulle het uitgegaan om aan die lig te kom dat hulle nie almal van ons was nie. Maar julle het 'n salwing van die Heilige, en julle weet alles.
1 JOHANNES 2:15-20 Die Boodskap (DB)
Moenie na die pype van hierdie wêreld dans nie. Moenie lief word vir die dinge wat vir die wêreld belangrik is nie. As iemand dit doen, kan hy mos nie sê dat hy lojaal teenoor die Vader is nie. Met wêreldse dinge bedoel ek dít: dit is begeertes wat deur menslike en wêreldse belange aangeblaas word sonder om met God rekening te hou; dit is om alles wat jou oë sien vir jouself te wil hê, en dit is om heeltyd net met jouself en dit wat jy het te spog. Dié dinge kom nie van die Vader af nie. Dit borrel op uit die fontein van die wêreld. Maar onthou dit: die aardse dinge is net tydelik. Daarom is al die begeertes daarna ook maar net ’n gejaag na wind. Maar die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in. My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom. Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense. Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is.
1 JOHANNES 2:15-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie. Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld. Dié wêreld én sy begeerlikhede is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd. Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie. Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.