1 KORINTIËRS 9:16-23

1 KORINTIËRS 9:16-23 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet goed verstaan: Ek bring die goeie boodskap, maar ek doen dit nie sodat ek trots kan wees omdat ek dit doen nie. Nee, ek móét dit doen, ek kan nie besluit om iets anders te doen nie. Dit sal baie sleg gaan met my as ek nié die goeie boodskap bring nie. As ek die goeie boodskap bring omdat ek self gevra het om dit te doen, dan kan ek vir julle geld vra omdat ek dit doen. Ek bring die goeie boodskap, maar nie omdat ek self gekies het om dit te doen nie, ek doen dit omdat die Here vir my hierdie belangrike werk gegee het. Dink julle nou dat ek niks beloning kry nie? Nee, my beloning is dat ek die goeie boodskap bring en dat julle niks betaal daarvoor nie. Ek kán vra dat julle vir my moet sorg, maar ek doen dit nie. Ek is vry om te doen wat ek wil doen, maar ek het besluit om 'n slaaf van almal te word, sodat meer mense in Christus kan glo. Ek het vir die Jode soos 'n Jood geword, sodat die Jode in Christus kan glo. Ja, die Jode probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê, en ek het vir hulle geword soos iemand wat ook probeer om alles te doen wat die wette sê. In my hart weet ek dat dit nie belangrik is dat ek alles moet doen nie, maar ek doen dit sodat die Jode ook in Christus kan glo, die Jode wat nog probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê. Die heidene ken nie die Wette van Moses nie, en vir húlle het ek geword soos iemand wat ook nie die Wette van Moses ken nie. Maar ek lewe altyd soos God se wette sê, ek lewe soos Christus dit verduidelik het. Ek doen dit omdat ek hoop dat die heidene ook in Christus sal glo, die heidene wat nie die Wette van Moses ken nie. Party gelowiges se geloof is nog swak en hulle dink dat al die Wette van Moses vandag nog belangrik is. Ek het ook soos een van daardie gelowiges geword. Só het ek probeer om hulle sterker in Christus te laat glo. Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red. Ek doen dit alles vir die goeie boodskap van Christus, sodat ek self ook kan kry wat Hy in sy boodskap belowe.

1 KORINTIËRS 9:16-23 Die Boodskap (DB)

Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie. As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen. Maar wat kry ek dan nou vir al my moeite? Dit is vir my meer as genoeg om maar net die boodskap oor Jesus aan mense te vertel sonder om geld daarvoor te vra, al het ek die volste reg om te eis dat hulle vir my ook moet sorg. Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei. As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo. Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie, maak ek asof ek ook nie so ’n wet het om na te luister nie. Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet. Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Ek doen dit alles omdat die evangelie soveel vir my beteken. Wanneer die evangelie mense se lewe verander, doen dit net soveel aan my as aan hulle.

1 KORINTIËRS 9:16-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As ek dan inderdaad die Goeie Nuus verkondig, is dit vir my geen besondere prestasie nie. Ek is verplig om dit te doen. Wee my as ek dit sou nalaat! As ek dit uit vrye wil sou doen, sou ek op vergoeding kon aanspraak maak. Maar as ek dit nie uit vrye wil doen nie, dan staan die saak heeltemal anders. En dit is inderdaad die geval: God het ’n bestuurstaak aan my toevertrou. Is daar dan vir my enige beloning? My beloning lê vir my juis in wat ek vrywillig addisioneel doen, naamlik dat ek in my werk as evangelieverkondiger die Goeie Nuus kosteloos aanbied sonder om van my reg as prediker gebruik te maak. Alhoewel ek dus teenoor niemand ’n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ’n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie, maar onder die wet van Christus staan. Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ’n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry.