1 KORINTIËRS 7:32-35
1 KORINTIËRS 7:32-35 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil graag hê julle moenie bekommerd wees oor dinge nie. As 'n man nie getroud is nie, dan het hy tyd om besig te wees met die dinge van die Here. Hy probeer dinge doen waarvan die Here hou. Maar as 'n man getroud is, dan is hy besig met die dinge van die wêreld. Hy probeer dinge doen waarvan sy vrou hou. 'n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir 'n vrou. As 'n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as 'n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen 'n vrou en 'n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag. Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op 'n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag. Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ek wil hê dat jy sonder omsigtigheid moet wees. Hy wat ongetroud is, sorg vir die dinge wat aan die Here behoort, hoe hy die Here kan behaag: Maar hy wat getroud is, sorg vir die dinge wat van die wêreld is, hoe hy sy vrou kan behaag. Daar is ook 'n verskil tussen 'n vrou en 'n maagd. Die ongetroude vrou sorg vir die dinge van die Here, sodat sy heilig kan wees na liggaam en gees; maar die getroude sorg vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man kan behaag. En dit spreek ek vir julle eie gewin; nie dat ek 'n strik oor julle kan gooi nie, maar oor wat mooi is, en dat julle die Here sonder afleiding kan ag gee.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Die Boodskap (DB)
Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk. As ’n mens egter ’n gesin het, is dit anders. Dan moet jy tyd afstaan om jou gesin te versorg. Jy moet jou vrou gelukkig hou. Hierdie man moet dan aan baie dinge gelyk dink en dit verdeel sy aandag. ’n Ongetroude vrou kan haar ook lekker toespits op wat vir die Here belangrik is. Haar doel is om met alles wat sy het vir die Here te leef. ’n Getroude vrou kan dit nie doen nie. Sy moet na haar gesin kyk en haar man versorg. Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help. Ek wil graag hê dat julle volstoom vir die Here moet leef en doen wat reg is.
1 KORINTIËRS 7:32-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak. Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak. Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak. Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe.