1 KORINTIËRS 4:7-13

1 KORINTIËRS 4:7-13 Bybel vir almal (ABA)

Hoekom dink jy dat jy beter is as iemand anders? Alles wat jy het, het God vir jou gegee. Hoekom spog jy en maak jy of jy dit self gekry het? Julle dink julle kan baie tevrede wees met julleself. Julle dink julle het genoeg van alles. Julle dink júlle het konings geword, maar óns, die apostels, is nog nie konings nie. Ek wens julle het konings geword, dan was ons nou saam met julle konings. Maar dit is nie so nie. Ons is apostels, maar ek dink God het vir ons die minste belangrik van almal gemaak. Ons is soos mense wat moet sterf omdat 'n regter gesê het ons moet die doodstraf kry. En nou wil die hele wêreld, mense én engele, sien hoe ons sterf. Almal dink nou dat ons, die apostels, baie dom is omdat ons vir Christus werk. En julle dink júlle is nou baie slim omdat julle vir Christus leer ken het. Julle dink óns is die swak mense en júlle is die sterk mense. Julle dink júlle is die belangrike mense en óns is nie belangrik nie. Kyk wat het tot nou toe alles met ons gebeur: Ons is honger en dors, ons dra stukkende klere, mense slaan ons, ons het nie 'n huis waar ons kan woon nie. Ons werk baie hard om kos en klere vir onsself te kry. Wanneer mense ons beledig, dan bid ons dat dit goed sal gaan met hulle. Wanneer hulle slegte dinge doen aan ons, dan bly ons stil. Wanneer hulle skinder van ons, dan sê ons mooi dinge vir hulle. Ons het geword soos die slegste mense in die wêreld, soos vuilgoed. Niemand dink ons is goed nie, en dit hou nooit op nie.

1 KORINTIËRS 4:7-13 Die Boodskap (DB)

Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders? Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is? Julle dink mos julle het alles wat julle nodig het, ja, in julle eie oë is julle geestelike miljoenêrs. Julle gedra julle asof julle die belangrikste mense op die aarde is en ons glad nie nodig gehad het nie. Ek wens dat julle régtig so belangrik geword het, want dan sou ons saam met julle net so belangrik kon wees. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog.