1 KORINTIËRS 3:7-16
1 KORINTIËRS 3:7-16 Bybel vir almal (ABA)
Die persoon wat plant en die persoon wat natgooi, is nie belangrik nie. Die Persoon wat laat groei, is belangrik, en dit is God. Die persoon wat plant, doen nie belangriker werk as die persoon wat natgooi nie. God sal elkeen beloon vir die werk wat hy gedoen het. Ons werk almal saam vir God. En julle is soos 'n stuk grond waar God besig is om te werk. Julle is 'n gebou van God. God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos 'n goeie bouer die fondament gebou, en 'n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou. Niemand kan 'n ander fondament bou nie, want daar is klaar 'n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus. 'n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi. Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het. Wanneer iemand op die fondament gebou het, en sy werk bly staan, dan sal die Here daardie persoon beloon. Maar as iemand se werk verbrand, dan sal daardie persoon alles verloor. Maar die Here sal die persoon self red, Hy sal die persoon uit die vuur red. Julle moet onthou dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon.
1 KORINTIËRS 3:7-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. WANT ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1 KORINTIËRS 3:7-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?
1 KORINTIËRS 3:7-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei. Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang. Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk. Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus •Christus. Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?
1 KORINTIËRS 3:7-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So is dit dan ook nie hy wat iets plant nie, en ook nie hy wat natmaak nie; maar God wat die verhoging gee. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een; en elkeen sal sy eie loon ontvang volgens sy eie arbeid. Want ons is arbeiders saam met God: julle is die landbouer van God, julle is God se gebou. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek as 'n wyse boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op hierdie fondament bou goud, silwer, edelgesteentes, hout, hooi, stoppels; Elkeen se werk sal openbaar word, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur geopenbaar sal word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; maar hy sal gered word; tog so soos deur vuur. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?
1 KORINTIËRS 3:7-16 Die Boodskap (DB)
Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie? Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei. Die een wat die saad plant en die een wat dit nat hou, werk saam soos in een span. Daar is nie ’n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie. Buitendien is God - en nie ons nie - die Een wat sal sorg dat elkeen van hulle die dank sal kry wat hulle verdien. Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help. ’n Mens kan julle, as die Here se gemeente, ook vergelyk met ’n gebou wat aan God behoort. God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou. Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het. Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou. Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou, want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie. God sal vir hulle wat goed gebou het ’n goeie beloning gee. Maar die mense wat sleg gebou het, sal op die dag wanneer die Here weer kom om hulle werk te inspekteer, baie spyt wees. Die Here sal hulle wel nie wegjaag nie, maar dit sal vir hulle net so goed wees asof hulle niks vir die Here gedoen het nie. Hulle sal met ’n bloedrooi gesig skaam agter in die ry moet gaan staan. Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly.
1 KORINTIËRS 3:7-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk. Ons is Gód se werkspan. Julle is Gód se saailand, Gód se gebou, nie ons s’n nie. Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees. Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus. As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word. Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie?