1 KORINTIËRS 15:51-54
1 KORINTIËRS 15:51-55 Bybel vir almal (ABA)
Nou gaan ek iets vir julle vertel wat niemand voorheen geweet het nie. Ons sal nie almal sterf nie, maar God sal ons almal verander. Dit sal baie vinnig gebeur, so vinnig soos 'n mens jou oog knip. Dit sal gebeur wanneer die laaste trompet blaas. Die trompet sal blaas, en dan sal God die mense wat dood is, weer laat lewe. Hulle liggame sal nooit stof kan word nie. God sal ons ook verander, ons wat nog sal lewe wanneer Christus weer kom. Want hierdie liggaam kan stof word, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie stof kan word nie. Hierdie liggaam kan sterf, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie kan sterf nie. Wanneer God dit alles gedoen het, wanneer Hy vir ons 'n liggaam gegee het wat nie stof kan word en wat nie kan sterf nie, dan sal die woorde waar word wat in die Ou Testament geskryf is: God het die dood heeltemal oorwin. Dood, dink jy dat jy altyd sal oorwin? Nee, jy sal nie. Dood, dink jy dat jy sal aanhou om mense te laat sterf soos wanneer bye mense doodsteek met hulle angels? Nee.
1 KORINTIËRS 15:51-54 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
1 KORINTIËRS 15:51-54 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kyk, ek maak 'n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word
1 KORINTIËRS 15:51-54 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk, ek vertel vir julle 'n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne 'n oomblik, 'n oogwink. 'n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.”
1 KORINTIËRS 15:51-54 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, Ek deel jou 'n verborgenheid mee; Ons sal nie almal slaap nie, maar ons sal almal verander word, In 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin: want die basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. Wanneer dan hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee het, dan sal die woord wat geskrywe is, vervul word: Die dood is verslind in die oorwinning.
1 KORINTIËRS 15:51-54 Die Boodskap (DB)
Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar.
1 KORINTIËRS 15:51-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word. Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie. Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.”