1 KORINTIËRS 15:20-34

1 KORINTIËRS 15:20-34 Bybel vir almal (ABA)

Maar nee, God het vir Christus weer laat lewe, dit is seker. Christus is die eerste Een van almal wat gesterf het, en God het Hom weer laat lewe. 'n Mens, Adam, het gesterf, en van toe af het almal in die wêreld gesterf. Maar nou het God 'n ander Mens, Christus, weer laat lewe, en daarom sal al die gelowiges wat gesterf het, ook weer lewe. Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe. Daarna sal die einde kom. Die einde is wanneer Christus alles waaroor Hy regeer, vir God die Vader gee, en wanneer Christus almal en alles sal oorwin wat oor die wêreld wil regeer. Want Christus moet regeer. Hy sal regeer totdat God Hom laat wen het teen al sy vyande. Die laaste vyand wat oorbly, is die dood. Maar Christus sal die dood ook oorwin. Ja, in die Ou Testament is geskryf: God het alles vir Hom gegee sodat Hy daaroor kan regeer. Maar wanneer God sê: “Christus moet oor alles regeer,” dan moet ons dit reg verstaan. Dit beteken nie dat Christus ook oor God regeer nie, want God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Wanneer God alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer, dan sal Christus, die Seun, Homself ook vir God gee. Julle moet onthou, God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Daarom sal God aan die einde ook oor Christus regeer, en dan sal God oor alles en almal regeer. Daar is iets anders waaroor ons ook moet dink. Party mense laat hulle doop, en dan sê hulle dat hulle dit doen vir die mense wat gesterf het en wat hulleself nie kon laat doop nie. Maar hoekom doen hulle dit as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie? En ook, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, hoekom doen ons elke dag vir God dinge waaroor ander mense ons wil doodmaak? My vriende, daar is elke dag mense wat my wil doodmaak. Dit is waar, en dit is ook waar dat ek trots is op julle. Ek is trots op julle omdat Christus Jesus ons Here my werk by julle geseën het. Ek het in Efese geveg teen mense wat soos wilde diere was en wat my wou doodmaak. Het dit vir my gehelp? Nee, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, dan moes ek ook gesê het: Kom ons eet en drink, want môre sterf ons. Julle moenie verkeerd dink nie. Julle moet onthou wat die spreekwoord sê: As jy verkeerde maats het, dan word jy 'n slegte mens. Julle moet verander, julle moet ophou om sonde te doen. Party van julle dink verkeerd wanneer julle oor God dink. Ek sê dit omdat ek wil hê julle moet skaam word.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop? Waarom is ons ook elke uur in gevaar? Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles. En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in •Christus Jesus, ons Here. As ek in Efese as 'n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar nou is Christus uit die dode opgewek en het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Want soos almal in Adam sterwe, so sal almal ook in Christus lewend gemaak word. Maar elkeen in sy eie orde: Christus die eersteling; daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Dan kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God, die Vader, oorgegee het; wanneer hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood. Want Hy het alles onder sy voete gestel. Maar wanneer hy sê dat alles aan hom onderwerp is, is dit duidelik dat hy uitgesonder is wat alles aan hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal die Seun self ook Hom onderwerp aan Hom wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. Anders, wat moet hulle doen wat vir die dooies gedoop word, as die dooies glad nie opstaan nie? hoekom word hulle dan vir die dooies gedoop? En waarom staan ons elke uur in gevaar? Ek protesteer deur julle blydskap wat ek het in Christus Jesus, onse Here, ek sterf daagliks. As ek op die manier van mense in Éfese met diere geveg het, wat baat dit my as die dooies nie opstaan nie? laat ons eet en drink; want môre sterf ons. Moenie mislei word nie: slegte boodskappe bederf goeie maniere. Word wakker tot geregtigheid en sondig nie; want sommige het die kennis van God nie. Ek spreek dit tot julle skande.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Die Boodskap (DB)

Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy. Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word. Die Skrif sê mos dat God Christus oor alles sal laat heers. As die Skrif oor “alles” praat, sluit dit natuurlik nie vir God self in nie. Wanneer die Seun oor alles heers en al die vyande van God uitgewis is, sal Hy Hom met alles wat Hy het onder die heerskappy van God kom stel. God sal dan oor alles regeer en almal sal Hom as Heerser erken. As dit nou waar was dat mense nie weer lewendig gemaak sal word nie, wat dan van die mense wat hulle laat doop sodat dié wat reeds dood is daarby kan baat? Vir wat doen hulle dit dan? Dieselfde geld vir ons: Hoekom leef ons as Christene swaar as ons nie oortuig is dat daar so iets soos ’n opstanding uit die dood is nie? My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het. Waarom sou ek hier in Efese as ’n sterflike mens soos ’n dier teen ander wilde diere geveg het as dit alles vir niks was nie? Dit maak mos nie sin nie. As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie, moet ’n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê: “Laat ons nou eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood.” Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo. Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie.

1 KORINTIËRS 15:20-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan. Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood. Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.) Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees. As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie? En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel? Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters, net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het. Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie, “laat ons feesvier en dronk word, want môre sterf ons”. Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want “slegte geselskap bederf goeie gewoontes”. Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref.