1 KORINTIËRS 13:11-12
1 KORINTIËRS 13:11-12 Bybel vir almal (ABA)
Toe ek 'n kind was, het ek dinge gesê soos 'n kind dit sê, ek het gedink soos 'n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos 'n kind. Maar toe ek 'n grootmens geword het, het ek die dinge van 'n kind gelos. In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer 'n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.
1 KORINTIËRS 13:11-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê. Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
1 KORINTIËRS 13:11-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
1 KORINTIËRS 13:11-12 Die Boodskap (DB)
Toe ek klein was, het ek nie soos ’n grootmens gepraat nie, maar soos ’n kind. Ek het ook gehou van dinge waarvan kinders hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan waaroor die grootmense praat nie, want ek het deur die oë van ’n kind na dinge gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit alles het verander. Die dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike kinderskoene. Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ’n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet.
1 KORINTIËRS 13:11-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ’n kind ontgroei. Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.