1 KORINTIËRS 12:4-14
1 KORINTIËRS 12:4-14 Bybel vir almal (ABA)
Daar is verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee. En daar is verskillende maniere om die Here te dien in die gemeente, maar dit is dieselfde Here wat sê hoe ons dit moet doen. En daar is verskillende wonderwerke, maar dit is dieselfde God wat mense help om al hierdie dinge te kan doen. Die Gees wys vir elkeen wat hy moet doen, want die Gees weet wat is goed vir die gemeente. Die Gees gee vir die een persoon die genadegawe om altyd te weet wat die regte ding is om te sê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mooi te kan verduidelik wat God wil hê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om sterk in God te glo. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mense gesond te maak. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om wonderwerke te doen. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om die boodskap van God te bring. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te sê of 'n boodskap van God kom of van bose geeste. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om in tale te praat. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te tolk wanneer iemand in tale praat. Dit is dieselfde Gees wat hierdie verskillende genadegawes vir mense gee. Hy gee vir elke gelowige sy eie genadegawe. En Hy besluit self watter genadegawe Hy vir elkeen wil gee. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom. 'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil. Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is 'n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is 'n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: Aan een word 'n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander gawes van genesing deur die één Gees; aan een dinamiese kragte, aan 'n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan 'n ander verskillende soorte tale, en aan nog 'n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil. Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou is daar 'n verskeidenheid van gawes, maar dieselfde Gees. En daar is verskille van bestuur, maar dieselfde Here. En daar is 'n verskeidenheid van werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal werk. Maar die openbaring van die Gees word aan elke mens gegee om daarby baat te vind. Want aan een word deur die Gees die woord van wysheid gegee; aan 'n ander die woord van kennis deur dieselfde Gees; Aan 'n ander geloof deur dieselfde Gees; aan 'n ander die gawes van genesing deur dieselfde Gees; Vir 'n ander die werking van wonders; na 'n ander profesie; na 'n ander onderskeiding van geeste; aan 'n ander verskillende soorte tale; vir 'n ander die uitleg van tale: Maar al hierdie dinge werk die een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos hy wil. Want soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van daardie een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want deur een Gees is ons almal tot een liggaam gedoop, of ons Jode of heidene is, of ons slawe of vrymense is; en is almal van een Gees laat drink. Want die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Die Boodskap (DB)
Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie. Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge. Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen. Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld: Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees. Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak. Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word. Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon. ’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:4-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees. En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here. Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer. Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel. Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis. Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing, aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê. Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind. Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk. Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie.