1 KORINTIËRS 12:14-26

1 KORINTIËRS 12:14-26 Bybel vir almal (ABA)

'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele. Die voet sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd 'n deel van die liggaam. Die oor sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd 'n deel van die liggaam. As die hele liggaam 'n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam 'n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie 'n liggaam nie. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar. Wanneer een deel swaarkry, dan kry al die dele saam swaar. En wanneer die mense een deel prys, dan is al die dele saam bly.

1 KORINTIËRS 12:14-26 Die Boodskap (DB)

Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.

1 KORINTIËRS 12:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die lig-gaam nie. Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik? Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind. As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie! Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie. Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik. En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander, terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam.