1 KORINTIËRS 12:12-25
1 KORINTIËRS 12:12-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees? Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Die Boodskap (DB)
’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk. Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie. En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die lig-gaam nie. Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik? Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind. As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie! Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie. Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik. En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander, terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Bybel vir almal (ABA)
'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom. 'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele. Die voet sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die hand nie,” maar dan is die voet nog altyd 'n deel van die liggaam. Die oor sê miskien: “Ek is nie 'n deel van die liggaam nie, want ek is nie die oog nie,” maar dan is die oor nog altyd 'n deel van die liggaam. As die hele liggaam 'n oog was, dink julle die liggaam sou dan kon hoor? As die hele liggaam 'n oor was, dink julle die liggaam sou dan kon ruik? Nee. Maar nou het God vir die liggaam verskillende dele gegee. Hy het elke deel gegee soos Hy wou. As die hele liggaam net een deel was, dan was daar nie 'n liggaam nie. Nou is daar baie dele, maar daar is net een liggaam. Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan ook nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” Nee, party dele van die liggaam lyk miskien vir ons swakker as ander dele, maar die liggaam het hulle baie nodig. Ons wil nie hê dat mense party dele van die liggaam sien nie, ons is skaam daarvoor, daarom maak ons dit toe met mooi klere. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê, “Omdat ek nie 'n hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê, “Omdat ek nie 'n oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die ganse liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As alles gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg.
1 KORINTIËRS 12:12-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van daardie een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want deur een Gees is ons almal tot een liggaam gedoop, of ons Jode of heidene is, of ons slawe of vrymense is; en is almal van een Gees laat drink. Want die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie; is dit dan nie van die liggaam nie? En as die oor sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie; is dit dan nie van die liggaam nie? As die hele liggaam 'n oog was, waar was die gehoor? As die hele gehoor het, waar was die reuke? Maar nou het God elkeen van hulle lede in die liggaam geplaas soos dit Hom goedgekeur het. En as hulle almal een lid was, waar was die liggaam? Maar nou is hulle baie lede, maar tog net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; ook nie die kop na die voete nie, ek het jou nie nodig nie. Nee, veel meer is daardie lede van die liggaam nodig wat swakker lyk: En daardie lede van die liggaam, wat ons as minder eerbaar beskou, aan hulle skenk ons meer oorvloedige eer; en ons onaangename dele het oorvloediger kosbaarheid. Want ons pragtige dele het nie nodig nie, maar God het die liggaam getemper deurdat Hy die deel wat ontbreek het, oorvloediger eer gegee het. Dat daar geen skeuring in die liggaam sou wees nie; maar dat die lede dieselfde sorg vir mekaar moet hê.