1 KORINTIËRS 12:12-14
1 KORINTIËRS 12:12-14 Bybel vir almal (ABA)
'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele. Ja, daar is baie dele, maar die baie dele is saam één liggaam. Christus is ook so. Toe ons gedoop is, het die Heilige Gees vir ons almal saam een liggaam gemaak. Ons is Jode, Grieke, slawe en vry mense, maar dieselfde Gees het in ons almal gekom. 'n Mens se liggaam het nie net een deel nie, dit het baie dele.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van daardie een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want deur een Gees is ons almal tot een liggaam gedoop, of ons Jode of heidene is, of ons slawe of vrymense is; en is almal van een Gees laat drink. Want die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Die Boodskap (DB)
’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie.
1 KORINTIËRS 12:12-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk. Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie.