1 KORINTIËRS 11:23-34

1 KORINTIËRS 11:23-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom. Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink. Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap. Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie. As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet. As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom.

1 KORINTIËRS 11:23-34 Bybel vir almal (ABA)

Ek sê hierdie dinge vir julle, want die Here self het vir my gesê wat die nagmaal is, en ek het dit ook vir julle geleer: Daardie nag toe Judas Iskariot vir die Here Jesus verraai het, het Jesus brood geneem en Hy het vir God dankie gesê. Toe het Hy die brood gebreek en gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.” Nadat hulle dit geëet het, het Jesus ook die beker geneem en gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die nuwe verbond. Elke maal wanneer julle die wyn drink, dan moet julle aan My dink.” Want elke maal wanneer julle hierdie brood eet en die wyn drink, dan preek julle dat die Here Jesus gesterf het. En julle doen dit totdat Hy weer kom. Daarom, as iemand nie op die regte manier die brood van die Here eet of die wyn van die Here drink nie, dan is hy so skuldig soos die mense wat vir die Here doodgemaak het. Elkeen moet eers vir homself ernstig vra of hy verstaan wat die nagmaal beteken en of hy reg lewe. En as hy dink dat hy dit verstaan en dat hy reg lewe, dan mag hy van die brood eet en uit die beker drink. Die gemeente is die liggaam van die Here. As jy dit nie verstaan nie, dan eet en drink jy verkeerd by die nagmaal. En dan sal die Here jou straf. Daarom is daar baie van julle wat swak en siek is, en daarom het baie mense ook gesterf. Ons moet eers vir onsself ernstig vra of ons verstaan wat die nagmaal beteken en of ons reg lewe. As julle dit gedoen het, dan het die Here julle nie gestraf nie. Maar as die Here ons straf, dan doen Hy dit soos 'n pa wat sy kinders straf. Hy wil ons nie saam met die mense van die wêreld straf nie. My vriende, daarom moet julle vir mekaar wag wanneer julle bymekaarkom om die nagmaal te vier. Wanneer iemand honger is, dan moet hy by sy huis eet voordat julle bymekaarkom. As julle dit nie doen nie, dan sal die Here julle straf. Daar is nog ander dinge waaroor ek met julle wil praat, maar ek sal dit doen wanneer ek na julle toe kom.

1 KORINTIËRS 11:23-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself. Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

1 KORINTIËRS 11:23-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgegee het, dat die Here Jesus in dieselfde nag waarin Hy verraai is, brood geneem het. En nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Op dieselfde manier het Hy ook die beker geneem toe hy die maaltyd geëet het, en gesê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle dit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Daarom, elkeen wat hierdie brood eet en hierdie beker van die Here drink, onwaardig, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar laat iemand homself ondersoek en so van daardie brood eet en uit daardie beker drink. Want hy wat op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, sonder om die liggaam van die Here te onderskei. Daarom is baie swakkes en siekes onder julle, en baie slaap. Want as ons onsself sou oordeel, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Daarom, my broeders, as julle bymekaarkom om te eet, vertoef vir mekaar. En as iemand honger het, laat hom by die huis eet; dat julle nie saamkom tot veroordeling nie. En die res sal ek regmaak as ek kom.

1 KORINTIËRS 11:23-34 Die Boodskap (DB)

Kom ek verduidelik weer vir julle wat die Here self oor die nagmaal gesê het. Dit alles het die nag gebeur toe Jesus gevang is. ’n Rukkie voor Hy gevang is, het Hy saam met sy getrouste volgelinge geëet. Hy het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen, sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer as julle dit eet, moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.” Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.” Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here terugkom. As julle dit so doen, is dit so goed soos ’n preek vir almal om te sien wat die dood van die Here vir julle beteken. Dit beteken dat ’n mens nie sommer skouerophalend die nagmaal kan eet asof dit niks is nie. As jy dit op so ’n traak-my-nieagtige manier doen, is jy amper net soos daardie mense wat vir Jesus geslaan en gespot het toe Hy gekruisig is. Hulle het nie besef wat die dood van Jesus regtig vir mense beteken nie. Wil jy regtig soos hulle wees? Sekerlik nie. Kyk dan diep in jouself en soek na die redes hoekom jy die nagmaal eet. Toets jou gesindheid voor jy van die brood en die wyn vat. As jy die nagmaal gebruik, maar jy gee nie om vir wat die brood en wyn beteken nie, kan dit ernstige gevolge vir jou hê. Jy gee die Here dan alle rede om jou te straf. Wil julle ’n bewys hiervoor hê? Kyk net hoeveel van julle het nie meer behoorlik krag om uit die bed op te staan nie en ly aan allerhande siektes. Party is selfs al dood. Wees dus liewer strenger met julleself en maak mooi seker dat julle die nagmaal eet soos die Here dit bedoel het. Wie dit met die regte gesindheid doen, sal die Here geen rede gee om hom te straf nie. Die Here wys nou liewer vir ons dat Hy met ons ongelukkig is as ons verkeerde dinge doen. Deur slegte dinge met ons te laat gebeur help Hy ons ook reg sodat ons nie eendag dieselfde paadjie sal loop as die wêreld wat nie in Hom glo nie. Die Here gaan hulle almal met die finale oordeel hard straf. My liewe vriende, nou sal julle goed verstaan waarom ek julle vra om maar te wag tot almal daar is voor julle die nagmaal eet. As iemand dan so honger is dat hy nie kan wag nie, laat hy iets by die huis eet. As julle dan bymekaar is, sal die versoeking nie daar wees om iets verkeerds te doen nie en sal dit ook nie vir die Here nodig wees om julle te straf nie. Dit is nou vir eers genoeg hieroor. Wanneer ons mekaar weer sien, kan ons verder gesels oor al die ander goed waaroor julle nog onseker is.

1 KORINTIËRS 11:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.” Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.” Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom. As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie. Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is. As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie. Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie. Daarom, my broers en susters, as julle vir die maaltyd van die Here bymekaarkom, wag vir mekaar. As julle werklik honger is, eet liewer vooraf by die huis sodat julle nie ’n oordeel oor julleself bring wanneer julle bymekaarkom nie. Die ander kwessies sal ek hanteer wanneer ek by julle aankom.