1 KORINTIËRS 1:21-30
1 KORINTIËRS 1:21-30 Bybel vir almal (ABA)
God was reg toe Hy besluit het dat die slim dinge wat die mense van die wêreld dink, hulle nie sal kan help om Hom te ken nie. Die mense van die wêreld sê die boodskap oor Jesus is iets wat dom lyk, maar God het besluit om die mense te red wat hierdie boodskap glo. Die Jode wil wondertekens sien en die Grieke wil slim dinge hoor, maar ons bring 'n boodskap dat Christus aan 'n kruis gesterf het. Vir die Jode is dit 'n groot probleem, en vir die heidene is dit iets wat dom lyk. Maar God het mense gekies, Jode én Grieke, en vir húlle is Christus die Een wat wys dat God sterk is en dat Hy wysheid het. Want die mense van die wêreld sê die boodskap oor Christus is iets wat dom lyk, maar die boodskap wys dat God meer wysheid het as die mense. En die mense van die wêreld sê God het gewys dat Hy swak is toe Hy Christus laat sterf het aan die kruis, maar toe God dit gedoen het, het Hy gewys dat Hy sterker is as die mense. Vriende, God het julle gekies. Maar kyk wie is julle. Julle is nie slim of belangrik nie, en julle kom nie uit belangrike families nie. Daar is dinge wat dom lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die slim mense te laat verstaan dat hulle niks weet nie. En daar is dinge wat onbelangrik lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die belangrike mense te laat besef dat hulle nie belangrik is nie. En daar is dinge wat vir die mense van die wêreld niks beteken nie, hulle dink dit is onbelangrik, hulle dink dit is niks. Maar God het daardie dinge gekies om te wys dat dit vir Hom anders is: Die dinge wat baie belangrik is vir die mense van die wêreld, beteken nou niks. Hoekom het God dit gedoen? Hy het dit gedoen sodat niemand kan dink hy is vir God beter as iemand anders nie. Dit is God wat julle nou naby Christus Jesus gebring het. Ja, as ons in Christus Jesus glo, dan sien ons die wysheid van God, ons sien dat Hy ons nie meer straf nie, dat Hy ons aan Hom wy en dat Hy ons vrymaak van die sonde.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense. Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense. Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies – dit wat niks is – om wat wél iets was, tot niet te maak, sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want nadat die wêreld in die wysheid van God God nie deur wysheid geken het nie, het dit God behaag deur die dwaasheid van die prediking om die wat glo, te red. Want die Jode vra 'n teken, en die Grieke soek wysheid. Maar ons verkondig Christus as gekruisigde, vir die Jode 'n struikelblok en vir die Grieke dwaasheid; Maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke, Christus, die krag van God en die wysheid van God. Omdat die dwaasheid van God wyser is as mense; en die swakheid van God is sterker as die mense. Want julle sien julle roeping, broeders, dat daar nie baie wyse manne na die vlees geroep word nie, nie baie magtiges nie, nie baie edeles nie. Maar God het die dwase dinge van die wêreld uitverkies om die wyse te beskaam; en God het die swakhede van die wêreld uitverkies om die dinge wat kragtig is, te beskaam; En die slegte dinge van die wêreld en die dinge wat verag word, het God uitverkies, ja, en die dinge wat nie is nie, om die dinge wat is, tot niet te maak: sodat geen vlees voor sy aangesig sou roem nie. Maar uit Hom is julle in Christus Jesus, wat uit God vir ons gemaak is wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Die Boodskap (DB)
Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie. My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan. God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak. Dinge waaraan mense hulle nie steur nie en wat hulle dink nutteloos is, gebruik God om sy doel te bereik. So word dinge wat mense weer dink iets werd is, nutteloos wanneer dit by God se planne kom. Geen mens kan dus voor God gaan staan en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het en daarvoor geprys moet word nie. God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak.
1 KORINTIËRS 1:21-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon. Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie. Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het.