1 KRONIEKE 29:10-22
1 KRONIEKE 29:10-22 Die Boodskap (DB)
Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.” Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig. Die volgende dag het hulle offerdiere geslag en ter wille van Israel brandoffers vir die Here gebring. Daar is 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers geslag en drankoffers en ander soorte offers is gebring. Hulle het met baie groot vreugde geëet en gedrink en geweet dat die Here daar by hulle teenwoordig is. Hulle het toe vir Salomo, Dawid se seun, vir die tweede keer as nuwe koning gekroon. Hulle het hom gesalf as hulle leier en vir Sadok as priester.
1 KRONIEKE 29:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid het die HERE geprys waar die hele vergadering teenwoordig was: “O HERE, God van ons voorouer Israel, mag U vir altyd geloof word! Aan U, HERE, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, HERE. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, ons God, en prys u heerlike Naam! “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het! Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting. “HERE ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U! “Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het. “HERE, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U. Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.” Daarna het Dawid vir die hele vergadering gesê: “Prys nou die HERE julle God!” Die hele vergadering het toe die HERE, die God van hulle voorouers, geloof. Hulle het in eerbied voor die HERE en die koning gekniel. Die volgende dag het hulle 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers as brandoffers aan die HERE geoffer. Hulle het ook drankoffers en baie ander offers ter wille van die hele Israel gebring. Hulle het in die HERE se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde. Hulle het weer vir Dawid se seun Salomo gekroon as hulle nuwe koning. Hulle het hom voor die HERE gesalf as hulle heerser, en vir Sadok as hulle priester.
1 KRONIEKE 29:10-22 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat 'n mens groot en sterk kan maak. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan gou verby. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om 'n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U. My God, ek weet dat U 'n mens se hart toets en dat U wil hê 'n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.” Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.” Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig. Die volgende dag het hulle vir die Here offers gebring. Hulle het brand-offers vir die Here gebring. Hulle het 1 000 bulle, 1 000 skaap-ramme en 1 000 lammers saam met die drank-offers gebring. Al die Israeliete het ook nog baie offers gebring. Hulle was daardie dag baie bly en hulle het daar voor die Here geëet en gedrink. Hulle het die tweede maal vir Salomo seun van Dawid koning gemaak en hulle het hom gesalf om die koning te wees wat aan die Here behoort. Hulle het ook vir Sadok gesalf om die priester te wees.
1 KRONIEKE 29:10-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam. Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee. Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos 'n skaduwee, en daar is geen verwagting nie. HERE onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, 'n huis te bou — dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U. En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het. HERE, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so 'n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U; en gee aan my seun Salomo 'n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het. Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die HERE julle God. Toe het die hele vergadering die HERE, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die HERE en voor die koning neergeval. En hulle het daardie volgende dag slagoffers aan die HERE geoffer en brandoffers aan die HERE gebring: duisend bulle, duisend ramme, duisend lammers, met die drankoffers daarvan, en slagoffers in menigte vir die hele Israel. En hulle het dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die HERE met groot blydskap, en Salomo, die seun van Dawid, vir die tweede maal koning gemaak en as vors gesalf vir die HERE en Sadok as priester gesalf.
1 KRONIEKE 29:10-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.” Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval. Die volgende dag het hulle aan die Here as brand- en ander diereoffers duisend bulle, duisend ramme en duisend lammers geoffer, saam met die drankoffers wat daarby hoort. Daar was ook nog 'n menigte offers van die hele Israel. Hulle het daardie dag met uitbundige vreugde geëet en gedrink voor die Here. Vir die tweede keer het hulle ook vir Salomo seun van Dawid tot koning verklaar. Hulle het hom voor die Here tot koning gesalf en vir Sadok as priester.
1 KRONIEKE 29:10-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarop het Dawid die HERE ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê: “U moet geprys word, HERE, God van ons vader Israel, van altyd af en vir ewig. Aan U, HERE, behoort die grootheid, die sterkte, die luister, die roem en die majesteit – ja, alles in die hemel en op die aarde. Aan U, HERE, behoort die koningskap, en U is as hoof verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U, en U regeer oor alles. In u hand is krag en sterkte, en dit is in u hand om enigiemand groot en sterk te maak. Daarom, ons God, prys ons U en loof ons u luisterryke Naam. Want wie is ek, en wie is my volk, dat ons in staat is om vrywillige gawes soos hierdie te gee? Ja, van U kom alles, en uit u hand het ons dit aan U gegee. Want •vreemdelinge is ons voor U, en bywoners, soos al ons voorouers. Soos 'n skaduwee is ons dae op die aarde, en daar is geen sekerheid nie. HERE ons God, al hierdie rykdom wat ons gereedgekry het om vir U 'n huis vir u heilige Naam te bou, is uit u hand en behoort alles aan U. Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee. HERE, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, bewaar dit vir ewig as die gesindheid van die gedagtes in die harte van u volk. Rig hulle harte op U, en gee aan my seun Salomo 'n onverdeelde hart om u gebooie, u bepalings en vaste voorskrifte, na te kom en dit alles uit te voer, en om die vesting te bou waarvoor ek voorbereidings getref het.” Toe het Dawid vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “Prys dan die HERE julle God!” Daarop het die hele geloofsgemeenskap die HERE, die God van hulle voorouers, geprys. Hulle het gekniel en in eerbied gebuig voor die HERE en die koning. Die volgende dag het hulle vir die HERE offers geslag en brandoffers vir die HERE gebring: 'n duisend bulle, 'n duisend ramme, 'n duisend lammers, met die bypassende •drankoffers, en met •maaltydoffers in oorvloed vir die hele Israel. Op daardie dag het hulle met groot vreugde voor die HERE geëet en gedrink. Hulle het Salomo, die seun van Dawid, 'n tweede keer as koning ingehuldig. Hulle het hom vir die HERE as leier gesalf, en Sadok as priester.
1 KRONIEKE 29:10-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom het Dawid die HERE voor die hele vergadering geseën, en Dawid het gesê: Geseënd is U, HERE, God van ons vader Israel, tot in alle ewigheid! Aan U, HERE, behoort die grootheid en die krag en die heerlikheid en die oorwinning en die majesteit, want alles wat in die hemel en op die aarde is, is aan U; aan U behoort die koninkryk, o HERE, en U is verhewe as hoof bo alles. Rykdom sowel as eer kom uit U, en U heers oor alles; en in jou hand is krag en sterkte; en in jou hand is dit om groot te maak en aan almal krag te gee. Nou dan, onse God, ons dank U en loof u heerlike Naam. Maar wie is ek, en wat is my volk, dat ons so graag so gewillig sou kan offer? want alles kom van U, en uit U eie het ons aan U gegee. Want ons is vreemdelinge voor jou en bywoners, soos al ons vaders was: ons dae op die aarde is soos 'n skaduwee, en daar is niemand wat bly nie. O HERE onse God, al hierdie voorraad wat ons voorberei het om vir U 'n huis vir u heilige Naam te bou, kom uit u hand en is alles aan u. Ek weet ook, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid. Wat my betref, in die opregtheid van my hart het ek al hierdie dinge gewillig geoffer; en nou het ek met blydskap u volk gesien wat hier teenwoordig is, om gewillig aan u te offer. O HERE, God van Abraham, Isak en van Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig in die verbeelding van die gedagtes van die hart van u volk, en berei hulle hart vir U voor. En gee aan my seun Salomo 'n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te onderhou en al hierdie dinge te doen en die paleis te bou waarvoor ek voorsiening gemaak het. Toe sê Dawid aan die hele vergadering: Loof nou die HERE julle God. En die hele vergadering het die HERE, die God van hulle vaders, geseën en hulle hoofde neergebuig en die HERE en die koning aanbid. En hulle het slagoffers aan die HERE geoffer en brandoffers aan die HERE gebring, die volgende dag, duisend bulle, duisend ramme en duisend lammers met hulle drankoffers en slagoffers in menigte vir die hele Israel. En hy het op dié dag met groot blydskap geëet en gedrink voor die aangesig van die HERE. En hulle het Salomo, die seun van Dawid, vir die tweede keer koning gemaak en hom vir die HERE gesalf as hoof goewerneur en Sadok as priester.