1 KRONIEKE 29:10-13
1 KRONIEKE 29:10-13 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat 'n mens groot en sterk kan maak. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam.
1 KRONIEKE 29:10-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.
1 KRONIEKE 29:10-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam
1 KRONIEKE 29:10-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarop het Dawid die HERE ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê: “U moet geprys word, HERE, God van ons vader Israel, van altyd af en vir ewig. Aan U, HERE, behoort die grootheid, die sterkte, die luister, die roem en die majesteit – ja, alles in die hemel en op die aarde. Aan U, HERE, behoort die koningskap, en U is as hoof verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U, en U regeer oor alles. In u hand is krag en sterkte, en dit is in u hand om enigiemand groot en sterk te maak. Daarom, ons God, prys ons U en loof ons u luisterryke Naam.
1 KRONIEKE 29:10-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom het Dawid die HERE voor die hele vergadering geseën, en Dawid het gesê: Geseënd is U, HERE, God van ons vader Israel, tot in alle ewigheid! Aan U, HERE, behoort die grootheid en die krag en die heerlikheid en die oorwinning en die majesteit, want alles wat in die hemel en op die aarde is, is aan U; aan U behoort die koninkryk, o HERE, en U is verhewe as hoof bo alles. Rykdom sowel as eer kom uit U, en U heers oor alles; en in jou hand is krag en sterkte; en in jou hand is dit om groot te maak en aan almal krag te gee. Nou dan, onse God, ons dank U en loof u heerlike Naam.
1 KRONIEKE 29:10-13 Die Boodskap (DB)
Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam
1 KRONIEKE 29:10-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid het die HERE geprys waar die hele vergadering teenwoordig was: “O HERE, God van ons voorouer Israel, mag U vir altyd geloof word! Aan U, HERE, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, HERE. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, ons God, en prys u heerlike Naam!