1 KRONIEKE 16:37-43
1 KRONIEKE 16:37-43 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het vir Asaf en die ander Leviete daar voor die verbondskis van die Here laat bly. Hulle moes aanhou om die werk by die kis te doen, die werk wat elke dag nodig was. Obed-Edom en 68 van sy familielede moes help. Obed-Edom seun van Jedutun en Gosa was poortwagte. Die priester Sadok en die priesters van sy familie moes werk by die tent van die Here by die offer-plek wat in die stad Gibeon was. Hulle moes aanhou om elke oggend en elke aand brand-offers op die altaar te bring, hulle moes dit doen soos dit geskryf is in die wette van die Here wat Hy vir die Israeliete gegee het. Saam met hulle was Heman en Jedutun en die ander Leviete, Dawid het hulle gekies en aangestel om vir die Here dankie te sê. Hulle het gesing en gesê: “Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Heman en Jedutun het trompette en simbale en ander musiek-instrumente by hulle gehad om musiek te maak wanneer hulle hierdie lied vir God gesing het. Jedutun se seuns was by die poort. Al die mense het toe huis toe gegaan, en Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te groet.
1 KRONIEKE 16:37-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hy het daar voor die verbondsark van die HERE Asaf en sy broers laat staan om gedurigdeur te dien voor die ark na die eis van elke dag; en ook Obed-Edom met hulle broers, agt-en-sestig, en Obed-Edom, die seun van Jedútun, en Hosa as poortwagters; maar Sadok, die priester, met sy broers, die priesters, voor die tabernakel van die HERE, op die hoogte wat in Gíbeon is, om gedurigdeur smôrens en saans op die brandofferaltaar brandoffers aan die HERE te bring, en dit volgens alles wat geskrywe is in die wet van die HERE wat Hy Israel beveel het; en saam met hulle Heman en Jedútun en die ander uitgesoektes wat met hulle name aangewys was om die HERE te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is; en by hulle, Heman en Jedútun, was trompette en simbale vir die musikante en instrumente vir die liedere tot eer van God; maar die seuns van Jedútun was by die poort. En toe die hele volk elkeen na sy huis gegaan het, het Dawid omgedraai om sy huisgesin te seën.
1 KRONIEKE 16:37-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid het vir Asaf en sy ampsgenote daar voor die verbondsark van die Here laat bly om voltyds voor die ark diens te doen soos dit van dag tot dag nodig sou wees; so ook vir Obed-Edom met sy ag en sestig ampsgenote. Obed-Edom seun van Jedutun en Gosa was poortwagte. Dawid het die priester Sadok met sy ampsgenote die priesters voor die tabernakel van die Here op die hoogte in Gibeon laat bly om gereeld soggens en saans vir die Here brandoffers te bring op die brandofferaltaar, soos dit voorgeskryf is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het. Saam met hulle het hy Heman en Jedutun en die ander manne wat gekeur en by name aangewys is, daar laat bly om die Here te loof: “Want aan sy liefde is daar geen einde nie.” Heman en Jedutun was in beheer van die trompette en simbale en die ander instrumente om die lied ter ere van God te begelei. Die volgelinge van Jedutun was by die poort. Hierna is almal huis toe, en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.
1 KRONIEKE 16:37-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dawid het Asaf en sy stamgenote daar voor die verbondsark van die HERE laat bly om deurentyd voor die ark diens te doen volgens die vereistes van elke dag. Obed-Edom en sy agt-en-sestig stamgenote, asook Obed-Edom, seun van Jedoetoen, en Gosa was daar as deurwagte. Die priester Sadok en sy medepriesters het hy voor die •tabernakel van die HERE op die •offerhoogte wat in Gibeon is, agtergelaat om deurentyd, soggens en saans, vir die HERE brandoffers op die brandofferaltaar te bring, volgens alles wat voorgeskryf is in die wet van die HERE wat Hy Israel beveel het. Saam met hulle was Heman en Jedoetoen en die res van die uitgesoektes wat by die naam aangewys is om die HERE te prys met die woorde: “Vir ewig duur sy troue liefde!” By hulle, by Heman en Jedoetoen, was daar trompette en simbale vir die musikante, en instrumente vir die begeleiding van godsdienstige liedere. Die seuns van Jedoetoen was by die poort. Daarna het die hele volk, elkeen, teruggegaan na sy huis. Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te seën.
1 KRONIEKE 16:37-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het daar voor die verbondsark van die HERE Asaf en sy broers gelaat om gedurigdeur voor die ark te dien, soos elke dag se werk vereis word. En Obed-Edom met hulle broers, agt en sestig; Obeddom, die seun van Jedutun en Hosa om poortwagters te wees; En Sadok, die priester, en sy broers, die priesters, voor die tabernakel van die HERE op die hoogte wat by Gíbeon was, om gedurigdeur soggens en saans brandoffers aan die HERE te bring op die brandofferaltaar, en te doen volgens alles wat geskrywe is in die wet van die HERE wat Hy Israel beveel het; En saam met hulle Heman en Jedutun en die ander uitverkorenes wat by name uitgespreek is, om die HERE te loof, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid; En saam met hulle Heman en Jedutun met trompette en simbale vir die wat 'n klank sou maak, en met musiekinstrumente van God. En die seuns van Jedutun was poortwagters. En die hele volk het elkeen na sy huis getrek, en Dawid het teruggekeer om sy huis te seën.
1 KRONIEKE 16:37-43 Die Boodskap (DB)
Dawid het die diens wat gereeld elke dag by die verbondsark van die Here gedoen moes word, aan Asaf en sy mede-Leviete oorgelaat. Obed-Edom, Jedutun se seun, en Hosa het met 68 Leviete as hekwagte begin werk. Intussen het Dawid vir Sadok en die ander priesters by die tentheiligdom van die Here op die hoogte by Gibeon laat bly. Hulle moes volgens die Here se wet elke oggend en aand vir Israel brandoffers op die altaar vir die Here verbrand. By hulle was Heman, Jedutun en die ander wat spesifiek aangewys is om die Here se lof te besing, “want sy liefde hou vir altyd aan en aan”. Hulle het op trompette en simbale gespeel en ander musiekinstrumente gebruik om die lofliedere te begelei. Jedutun se seuns was die hekwagte. Hierna het al die mense huis toe gegaan en Dawid is huis toe om sy huisgesin te gaan seën.
1 KRONIEKE 16:37-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid het gereël dat Asaf en sy mede-Leviete gereeld voor die verbondsark van die HERE diens doen soos elke dag vereis word. Hierdie groep sluit ook Obed-Edom, seun van Jedutun, en Gosa en 68 ander Leviete in. Hulle was poortwagters. Intussen het Dawid vir Sadok, die priester, en sy medepriesters by die tabernakel van die HERE op die Gibeonhoogte gestasioneer. Hulle het elke môre en aand die gereelde brandoffers aan die HERE geoffer op die altaar wat daarvoor afgesonder is. Hulle het alles gedoen wat geskryf is in die bepalings wat die HERE vir Israel gegee het. Dawid het ook Heman, Jedutun en die ander aangestel wat uitgesoek is om dank aan die HERE te bring, “want sy getroue liefde duur vir altyd!” Hulle het hulle trompette, simbale en ander instrumente gebruik om lofliedere aan God te sing. Die seuns van Jedutun is as poortwagters aangestel. Die hele volk het na hulle huise toe teruggegaan, en Dawid het teruggegaan om sy familie te seën.