ROMEINE 16:1-16

ROMEINE 16:1-16 AFR83

Ek beveel ons suster Febe wat dienaar is in die gemeente in Kenchreë, by julle aan. Ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle hulp nodig kry, want sy was vir baie, en ook vir my, tot steun. Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom. My groete verder ook aan my liewe vriend Epenetus, die eerste bekeerling vir Christus in die provinsie Asië, en aan Maria, wat baie moeite vir julle gedoen het. Gee my groete ook aan Andronikus en Junias, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword. En dan stuur ek ook groete vir Ampliatus, my liewe vriend in die Here, vir Urbanus, my medewerker in Christus, en vir my liewe vriend Stagis; ook vir Apelles – hy het gewys wat in hom steek as gelowige – en die huis van Aristobulus; vir Herodion, my volksgenoot, en vir dié uit die huis van Narsissus wat tot die geloof gekom het. Groete verder ook aan Trifena en Trifosa, ywerige werksters vir die Here, en aan my liewe Persis, wat al baie vir die Here gedoen het. Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd 'n ma was. En dan ook nog groete aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en al die broers daar by hulle; ook aan Filologus en Julias, Nereus en sy suster en Olimpas en al die ander gelowiges daar by hulle. Groet mekaar met 'n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

Video vir ROMEINE 16:1-16