Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”
Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
omdat my oë u verlossing gesien het
wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
'n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”
Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.
Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.
Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.