JOSUA 7:16-21

JOSUA 7:16-21 AFR83

Josua het die môre vroeg opgestaan en Israel volgens stamme laat nader kom. Die stam Juda is aangewys. Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys. Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys. Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.” Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit: ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.”