JOB 11

11
Sofar: Gebruik jou verstand reg
1Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:
2“Moet al die baie woorde onbeantwoord bly?
Kan 'n mens homself met praat regverdig?
3Moet mense stilbly vir jou praatjies?
Wil jy bly laster sonder dat iemand jou bestraf?
4Jy sê vir God: ‘Wat ek dink, is reg,
ek is onskuldig voor U.’
5As God maar wou begin praat
en jou wou weerspreek,
6jou wou vertel hoe ingewikkeld die wysheid is,
en hoeveel dit vra om iets blywends tot stand te bring!
Dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.
7“Kan jy begryp wie God werklik is?
Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?
8Dit is kennis wat hoër is as die hemele.
Hoe kan jý daarby uitkom?
Dit is kennis wat dieper is as die doderyk.
Hoe kan jy dit bereik?
9Dit strek verder as die aarde,
wyer as die see.
10“As God in die verbygaan iemand gevange neem
en voor die gereg bring, wie sal Hom keer?
11God ken skynheilige mense,
Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.
12'n Idioot kan nie verstand kry nie,
net so min as wat 'n wildedonkievul 'n mens is as hy gebore word.
13Maar jy, as jy jou verstand reg wil gebruik
en jou hande in gebed na God toe uitsteek,
14as jy jou sonde van jou af sou verwyder
en nie toelaat dat onreg in jou woon nie,
15kan jy jou kop sonder skaamte oplig
en in die nood kom sonder om bang te wees,
16kan jy jou swaarkry vergeet
en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het.
17Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag,
jou donker sal lig word soos die môre.
18Jy sal gerus wees omdat daar vir jou vooruitsigte is,
jy sal jou lêplek regmaak en rustig slaap.
19Jy sal gaan lê en vir niemand bang wees nie,
en baie mense sal jou guns soek.
20Maar die oë van die goddeloses sal toegaan,
daar is geen uitkoms vir hulle nie:
al vooruitsig wat hulle het, is om die laaste asem uit te blaas.”

Tans Gekies:

JOB 11: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid