JOHANNES 4:1-15

JOHANNES 4:1-15 AFR83

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”