JOHANNES 21:4-11

JOHANNES 21:4-11 AFR83

Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Nee,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid