Luister na My, Jakob,
luister, Israel, vir wie Ek geroep het:
Ek is die Here,
Ek is die eerste, en Ek is die laaste.
Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê,
deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei:
Ek het hulle te voorskyn geroep
en hulle het tot stand gekom.
Kom almal bymekaar, luister.
Wie van die gode het aangekondig wat nou gaan gebeur?
Die Here het iemand lief,
en dié sal aan Babel doen wat hy wil
en sy mag teen die Galdeërs laat geld.
Ek, Ek het dit gesê, Ek het hom geroep,
Ek het hom laat kom,
en hy sal voorspoedig wees in wat hy moet doen.
Kom nader na My toe
en luister hierna:
Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie,
vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar.
En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur.
So sê die Here, jou Verlosser,
die Heilige van Israel:
Ek is die Here jou God
wat jou onderrig tot jou beswil,
wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.
As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was,
sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het,
so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see.
Jou nageslag sou so baie gewees het soos sand,
jou afstammelinge so volop soos sandkorrels,
en Ek sou toegesien het dat hulle nie vernietig
en uitgeroei word nie.
Gaan uit Babel uit,
vlug weg van die Galdeërs af!
Jubel dit uit,
maak hierdie aankondiging
en laat dit weerklink tot in die uithoeke van die aarde;
sê: “Die Here het sy dienaar Jakob verlos!”
Sy volk het nie dors gekry
toe Hy hulle deur 'n droë wêreld gelei het nie.
Hy het vir hulle water uit 'n rots laat stroom,
Hy het die rots gekloof
en daar het water uitgestroom.
Maar vir die goddeloses
is daar geen vrede nie, sê die Here.