HOSEA 9:1-9

HOSEA 9:1-9 AFR83

Staak jou feeste, Israel! Hou op om fees te vier soos die ander nasies! Jy was ontrou aan jou God. Jy was daarop uit om met jou tempelprostitusie op elke plek waar koring gedors word, groter oeste te probeer kry. Maar die dorsvloer en parskuip sal julle nie voed nie, en geen wyn sal daar uitgetrap word nie. Julle sal nie in die land van die Here bly nie, Efraim sal na Egipte toe teruggaan, en in Assirië sal hulle onrein kos moet eet. Hulle sal nie wyn uitgiet as drankoffers vir die Here nie, hulle sal geen offers aan Hom bring nie. Hulle kos sal so onrein wees soos kos uit 'n sterfhuis . Almal wat dit eet, sal onrein word, want hulle sal dit moet eet sonder dat dit in die huis van die Here gewy is. Hoe gaan julle die feestyd, die groot fees van die Here deurbring? Dié wat die verwoesting ontvlug, sal in Egipte bymekaargemaak en in Memfis begrawe word. Waar hulle silwerskatte begrawe lê, en in hulle woonplekke, sal onkruid en dorings groei. Die tyd van straf het aangebreek! Die tyd van afrekening het gekom! Israel sal dit besef. Is die profeet dwaas? Is die man wat deur die Gees in besit geneem is, waansinnig? Hy is so omdat jou sonde so groot is en omdat jy so vyandig is teen hom. Die profeet is deur God gestuur om oor Efraim wag te hou, maar oral waar die profeet gaan, probeer hulle hom vastrek. Die vyandigheid hou nie eens in die huis van sy God op nie. Net soos in die tyd van Gibea is daar nie 'n einde aan hulle slegte dade nie. Die Here sal hulle sonde teen hulle hou, Hy gaan hulle laat boet vir hulle oortredings.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HOSEA 9:1-9