HAGGAI 2:4-19

HAGGAI 2:4-19 AFR83

Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige. Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige. Op die vier en twintigste van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here tot die profeet Haggai gekom: So sê die Here die Almagtige: Vra tog by die priesters leiding oor hierdie saak: As iemand vleis wat aan die Here gewy is, in die sak van sy klere dra, en hy raak met die sak aan brood of groente of wyn of olie of enige ander soort kos, sal dié dinge dan gewy wees? Die priesters antwoord toe: “Nee!” Toe sê Haggai: As iemand wat onrein is deurdat hy aan 'n lyk geraak het, aan hierdie dinge sou raak, sou hulle dan onrein word? Die priesters het geantwoord: “Ja, dit sal onrein word!” Haggai sê toe: Só is hierdie volk, hierdie nasie in my teenwoordigheid, sê die Here, só is alles wat hulle doen: elke offer wat hulle na my tempel toe bring, is onrein! Let daarom op wat in die verlede en tot nou toe gebeur het: voordat julle begin het om die tempel van die Here te herbou, het julle by 'n hoop koring gekom en net die helfte van wat julle geskat het, daaruit gedors. Julle het na 'n parskuip toe gegaan om vyftig vate vol te skep, maar julle het net twintig gekry. Ek het julle oes, die vrug van julle handewerk, swaar getref met brandkoring, heuningdou en hael, en nogtans het niemand hom tot My bekeer nie, sê die Here. Maar nou, let op wat van vandag af en verder sal gebeur, van die vier en twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondamente van die tempel van die Here gelê is. Let op! Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal Ek voorspoed gee!