GENESIS 2:18-24

GENESIS 2:18-24 AFR83

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie. Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Video vir GENESIS 2:18-24