2 KONINGS 24:10-17

2 KONINGS 24:10-17 AFR83

In dié tyd het die leër van koning Nebukadnesar van Babel 'n aanval op Jerusalem begin en die stad beleër. Nebukadnesar het self na die stad toe gekom terwyl sy soldate dit beleër het. Koning Jojagin van Juda het hom oorgegee aan die koning van Babel, hy, sy ma, sy lyfwag, sy amptenare en sy offisiere. Jojagin is deur die koning van Babel gevange geneem in sy agste regeringsjaar. Nebukadnesar het, soos die Here vantevore gesê het, al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die paleis gevat en hy het al die goue goed stukkend geslaan wat koning Salomo van Israel vir die tempel van die Here laat maak het. Nebukadnesar het die hele Jerusalem weggevoer: al die amptenare, al die soldate, tien duisend gevangenes, ook die vakmanne en die smede. Niemand het agtergebly nie behalwe die armstes van die landsbevolking. Hy het vir Jojagin na Babel toe weggevoer. Hy het ook die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere en die belangrikste mense in die land van Jerusalem af na Babel toe in ballingskap weggevoer. Die koning van Babel het al die weerbare manne gevange weggevoer na Babel toe, al die soldate, sewe duisend, en ook nog duisend vakmanne en smede. Hy het vir Mattanja, 'n oom van Jojagin, in sy plek koning gemaak en sy naam verander na Sedekia.