Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar 'n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand. Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan. Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer. Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie. Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God. Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.” Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het.
Lees 1 SAMUEL 30
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 SAMUEL 30:1-9
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's