Op ’n dag sê Naomi vir Rut: “Ons moet vir jou ’n man kry, sodat jy versorg kan word en jou eie huis en ’n huisgesin kan hê. Jy onthou vir Boas, die man saam met wie se werkers jy are opgetel het? Ek het mos vir jou gesê hy is familie van ons. Luister nou, hy gaan later die gars op die dorsvloer uitslaan en dan moet hy dit vir die nag oppas. Gaan bad en sit parfuum aan en trek jou mooiste klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar moenie dat Boas agterkom jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. As hy dan later gaan slaap, kyk mooi waar hy gaan lê, en as hy aan die slaap geraak het, tel die komberse op en gaan lê by sy voete. Hy sal verstaan dat jy versorging nodig het en vir jou sê wat jy moet doen.”
Rut antwoord toe: “Ek sal doen wat Ma gesê het.” Rut is toe dorsvloer toe en het gedoen wat Naomi gesê het.
Toe Boas klaar geëet en gedrink het, was hy baie opgeruimd en vrolik. ’n Rukkie later het hy langs die hoop gars gaan lê en aan die slaap geraak. Rut het stilletjies soontoe gegaan, die kombers opgelig en by sy voete gaan lê. Gedurende die nag het Boas wakker geword. Toe hy wou omdraai, was hy verbaas om te sien dat daar ’n vrou by sy voete lê.
“Wie is jy?” wou hy weet.
“Ek is Rut,” antwoord sy toe. “Omdat u familie van my skoonpa is, is u ook verplig om my te help versorg. Trou met my, asseblief.”
“Mag die Here goed wees vir jou,” sê hy toe. “Wat jy nou doen, is ’n nog groter liefdesdaad as die liefde wat jy aan jou skoonma bewys het. Jy kon maklik vir jou ’n jong- man gaan soek het, of hy nou ryk of arm was, dit maak nie saak nie. Maar jy het dit nie gedoen nie. Moenie jou verder bekommer nie, ek sal doen wat jy vra. Almal in die dorp ken jou in elk geval as ’n eerlike en goeie vrou. Daar is net een probleem. Dit is waar dat ek ’n familielid is wat ’n plig het om jou en jou skoonma te versorg, maar daar is iemand anders wat nog ’n nader familielid is as ek en hy is in die eerste plek vir julle verantwoordelik. Bly vannag hier. Môreoggend sal ons uitvind of hy vir jou wil sorg of nie. As hy dit wil doen, is dit goed so. So nie, sal ek met jou trou, so seker as die Here lewe, ek belowe dit. Bly nou maar hier tot môreoggend, dis veiliger.”
Sy het toe daar gebly en by Boas se voete gelê en slaap tot die volgende oggend. Vroeg, nog voor sonop, het sy opgestaan en huis toe gegaan voordat iemand haar dalk kon herken. Want Boas wou in elk geval nie hê die mense moes weet ’n vrou was by die dorsvloer nie. Voor sy loop, het Boas vir haar gesê om die los baadjie wat sy bo-oor haar klere aangehad het vir hom te bring en dit op die grond oop te gooi. Hy het toe ongeveer twintig kilogram gars daarin gesit, dit toegedraai en haar gehelp om dit op te tel. Sy is toe terug dorp toe.
By Naomi aangekom, vra dié: “En toe, Rut, hoe het dit gegaan?”
Rut het vir Naomi alles vertel wat Boas gedoen het, en bygevoeg: “Hy het ook vir my hierdie klomp gars gegee sodat ek nie met leë hande hier by Ma aankom nie.”
Naomi sê toe vir haar: “Wees nou maar net geduldig totdat ons sien wat gebeur. Boas sal nie rus voordat hy hierdie saak vandag nog opgelos het nie.”