Markus 9:1-32

Markus 9:1-32 DB

“Ek vertel nie stories nie. Dit is die waarheid. Party van julle wat hier rondstaan, sal nie doodgaan voordat julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk waar Hy met groot mag regeer nie.” Ses dae het verbygegaan. Jesus vat toe vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg uit. Niemand anders was saam met hulle nie. Skielik, voor die oë van die drie mans, het Jesus heeltemal anders begin lyk. Sy klere het geskitter en geblink soos g’n mens dit ooit kan laat skitter of blink nie. Plotseling verskyn die ou Godsmanne, Elia en Moses, ook daar voor hulle en begin met Jesus praat. Petrus haak toe af en sê: “Here, dit is so lekker om hier te wees. Laat ons sommer drie huisies hier bou, een vir U en een elk vir Moses en Elia.” Petrus het eintlik net gebabbel, want hy was heeltemal verbouereerd. Hy het nie geweet wat om te sê nie, want hy was bang. Die skaduwee van ’n groot wolk val toe op hulle. Iemand praat toe uit die wolk: “Dit is die Seun wat Ek liefhet. Luister na Hom.” Met die knip van ’n oog was alles en almal weg. Hulle het rondgekyk, maar nog net vir Jesus by hulle sien staan. Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?” “Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.” Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer. Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe. “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus. “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie. As die bose gees hom pak, slaan hy op die grond neer. Skuim borrel dan by sy mond uit, hy byt vreeslik op sy tande en hy word stokstyf. Ek vra toe u volgelinge om die gees uit my seun te verjaag, maar hulle kon nie.” Jesus sê toe: “Julle glo darem baie swaar. Hoe lank moet Ek nog hier by julle bly voordat julle sal glo? Hoeveel geduld moet Ek nog met julle hê? Bring die seun hier.” Hulle bring toe die seun. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun op die grond neerslaan en stuiptrekkings kry. Voor almal het die seun op die grond gelê en rol terwyl skuim by sy mond uitborrel. “Hoe lank gebeur dit al met hom?” vra Jesus sy pa. “Vandat hy klein is, kry hy sulke snaakse aanvalle,” kom die antwoord. “Dan gooi die gees hom in die vuur of in die water om hom te probeer seermaak. As U ons enigsins kan help, smeek ek U, sien ons verdriet raak en help ons, asseblief!” Jesus reageer toe: “Sê jy: ‘As Ek kan’? Wel, as ’n mens vertrou, is enigiets moontlik.” Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.” Jesus sien hoe die mense van alle kante af daar begin saamdrom. Hy praat toe streng met die bose gees: “Jy, gees wat keer dat hierdie seun kan hoor of praat, Ek sê nou vir jou, gee pad uit die seun uit en moenie ooit eens weer daaraan dink om terug te kom nie.” Die gees het vreeslik gegil, die seun nog erger stuiptrekkings laat kry en is toe uit die seun uit. Die seun het doodstil bly lê. Baie mense het gedink hy is dood. Jesus vat toe sy hand en help hom op, en die seun het regop gestaan. Nadat Jesus-hulle weer by die huis ingegaan het, vra sy dissipels Hom stilletjies: “Hoekom kon ons nie van die bose gees ontslae raak nie?” Jesus sê toe: “Hierdie soort bose gees kan net uitgedryf word as jy God in gebed daarvoor vra.” Hulle is van daar af weg en is deur Galilea. Jesus wou ’n bietjie privaat saam met sy getrouste volgelinge wees. Hy wou die tyd gebruik om hulle meer te vertel en te leer wat hulle moes weet. Daarom wou Hy nie gehad het dat enigiemand moes weet dat hulle daar is nie. Hy sê toe: “Die Seun van die mens gaan aan mense uitgelewer word. Hulle sal Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy uit die dood opstaan.” Sy volgelinge het nie mooi verstaan waaroor Hy praat nie, maar hulle was te bang om Hom verder uit te vra.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid