Toe die son sak en die sabbat verby was, het Maria Magdalena, Salome en Maria, Jakobus se ma, olie gaan koop wat lekker ruik om dit op die liggaam van Jesus te gaan gooi. Die volgende oggend vroeg, net toe die son uitkom, is hulle weg graf toe. Hulle het onder mekaar gewonder: “Wie gaan ons help om daardie groot rots voor die ingang van die graf weg te kry?” Daar gekom, kon hulle hulle oë byna nie glo nie. Die groot rots het eenkant weggerol gelê. Hulle gaan toe in die graf in wat soos ’n kamertjie gelyk het. Hulle skrik hulle byna boeglam, want daar aan hulle regterkant sit ’n jongman met spierwit klere aan. “Moenie weghardloop nie,” sê die man. “Ek weet julle is op soek na Jesus van Nasaret. Hy is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword. “Kom kyk maar hier waar hulle sy lyk neergesit het. Gaan vertel vir Petrus en sy ander volgelinge: Jesus is voor julle uit Galilea toe. Daar sal julle Hom kry soos Hy vir julle gesê het.” Die vroue draai toe om en hardloop met bewende bene so al wat hulle kan terug, want hulle het groot geskrik. Hulle het hulle monde gehou en met niemand daaroor gepraat nie, want hulle was te bang. (Tog het hulle vir Petrus en die ander kortliks vertel wat vir hulle gesê is. Daarna het Jesus self deur hulle die wonderlike boodskap oor Hom wat altyd waar sal bly, van die ooste tot in die weste laat verkondig. Hiervan kan ons seker wees.)
Lees Markus 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 16:1-8
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's